Mening: Opwaartse kurwe vir SA-krieket ondanks onlangse glipse

Foto: ANA.

ʼn Land se krieketkrag kan nie net op sy tref-en-trap T20-sukses gebaseer word nie, maar tog het die amper verwagte neerlaag verlede naweek in dié formaat se Wêreldbekertoernooi teen Australië seergemaak.

Suid-Afrikaanse krieket se huidige voortslepende krieket-deurmekaarspul het die afgelope jaar of so in ʼn onverstaanbaarheid ontaard wat byna so tragies is as die besluite en optrede van die Westelike Provinsie Rugbyunie se bestuur onder Zelt Marais.

By krieket is die nasionale liggaam, Krieket Suid-Afrika, egter die aangeklaagde wat vrolik op hul sukkelweë voortgaan.

Desondanks, as ʼn mens na Suid-Afrika se geskiedenis kyk, is daar ʼn besliste opwaartse kurwe in Suid-Afrikaanse krieket ondanks ons onlangse rekord op toets-, eendag- en T20-vlak wat eintlik maar taamlik gemiddeld voorkom as uitslae teen die voorste lande in ag geneem word.

Sukkelrekord van 1889 tot 1971

Die nasionale span is tot 1991 deur die onderskeie SA-regerings (insluitende die Britse kolonies en die Boererepublieke) verbied om met en teen gekleurde spanne te speel.
Ons rekord teen Engeland, Australië en Nieu-Seeland (ons enigste drie toegelate opponente tussen 1889 en 1971) was bra swak. Suid-Afrika het net 38 toetse (22%) uit 172 gewen, 78 (45%) verloor met 56 wat onbeslis was. Dit was in die dae voor eendaagse- en T20-kompetisies.

Daar was tussen 1889 en 1971 darem opflikkerings, veral met ons laaste twee (tuis)reekse teen Australië voordat die internasionale boikot weens regeringsbeleid ingeskop het.

Die twee wenreekse van die destydse Springbok-krieketspanne van Peter van der Merwe en Ali Bacher in 1967 en 1970, toe hulle in ʼn tuisreeks die Aussies met 3-1 en 4-0 in vyfdagtoetse verniel het, was seker dié hoogtepunte.

Ná 1991: Wen-hupstoot teen nuwe teenstanders

Jacques Kallis vier ’n honderdtal teen Engeland op die Oval in 2012. AFP PHOTO/Ian Kington.

En toe kom die nuwe bedeling in 1991. Sonder om al die voorste spelers en die individuele toetse te ontleed het Jacques Kallis, moontlik die wêreld se beste veelsydige toetsspeler nóg, sedert 1995 tot 2013 vir Suid-Afrika gespeel.

Daar was ook uitstekende kapteins soos Kepler Wessels, Hansie Cronjé, Shaun Pollock en Graeme Smith wat die wenwiele aan die rol gekry het. Hashim Amla en Faf du Plessis het ook nog as kapteins gevolg. Daar was ook nóg sewe wat in minder toetse die aanvoerders was.

Dit het persentasiegewys ná die boikotopheffing veel beter gegaan teen nuwe teenstanders soos hoofsaaklik Wes-Indië, Zimbabwe, Bangladesj, Sri Lanka, Afghanistan en nou ook Ierland en in ʼn mindere mate teen Indië en Pakistan. Dit het ons wensyfer ʼn groot hupstoot gegee.

Dit was veral in toetse – die werklike maatstaf waaraan ʼn krieketland gemeet word – opvallend. Maar daar was steeds haakplekke teen die twee bestes van voor 1971, naamlik Engeland en Australië.

  • Teen Australië het Suid-Afrika net 15 van die 45 wedstryde en die Aussies 23 gewen met sewe wat onbeslis was.
  • Engeland het 18 toetse en Suid-Afrika 16 gewen met 17 wat onbeslis was. Dit is egter steeds veel beter as voor 1971, soos vroeër in die artikel genoem word.
  • Teen die sogenaamde nuwe teenstanders is daar, met die uitsondering van Indië wat 15 en Suid-Afrika wat 14 van die 39 wedstryde gewen het met 10 wat onbeslis was, ʼn groot persentasie oorwinnings behaal wat die illusie van groot verbetering meer realisties maak.
  • Van Hansie Cronjé se 27 seges in 53 toetse tussen 1993/94 en 2000 was daar net drie oorwinnings in sewe toetse teen Australië, teen Engeland net twee uit tien, teen Pakistan drie uit sewe, en vyf uit agt teen Indië.

Teen Zimbabwe (3/3), Sri Lanka (2/2) en Nieu-Seeland (4/7) het dit beter gegaan.

  • Dis nogal interessant dat Shaun Pollock 14 van sy 26 toetse as kaptein gewen het, maar nooit teen Engeland nie.
  • Faf du Plessis, daarenteen, het toe hy sy span twee keer elk teen Australië en Engeland aangevoer het, drie van die vier reekse gewen en sewe van die 14 toetse.
  • Graeme Smith was vyf keer teen Engeland kaptein en het al vyf die toetsreekse en 21 teen 8 toetse gewen. Onder se kapteinskap is Australië in elkeen van die sewe reekse geklop en 18 toetse teen hul vyf gewen.

ʼn Groter spelerspoel

Afrikaanse spelers het toenemend na provinsiale vlak begin deurbreek en hul merk gemaak, heel anders as voor en in die sewentigs toe daar benewens Transvaal se Marinus van Wyk net ʼn paar Vrystaters soos die Strydoms, Steve, Willie, Corrie en Piet, en Griekwas met spelers soos Des Schonegevel onder die weinig Afrikaanse spelers op provinsiale vlak was.

Hansie Cronje. Foto: Yoav Lemmer/AFP/

Van die Afrikaanse spelers wat ná Suid-Afrika se terugkeer in 1991 na toetsvlak deurgebreek het (in geen bepaalde orde nie), was onder meer AB de Villiers, Faf du Plessis, Fanie de Villiers, Tertius Bosch, Hansie Cronjé, Kepler Wessels, Boeta Wessels, Gerhardus Liebenberg, Allan Donald, Rudi Steyn, Boeta Dippenaar, Nantie Hayward, Pieter Strydom, Nicky Boje, André Nel, Andrew Hall, Dewald Pretorius, Martin van Jaarsveld, Jacques Rudolph, Pieter Malan (broer van Janneman) en Rassie van der Dussen.

Voeg daarby gehaltespelers van kleur wat ook heelwat tot die sukses bygedra het.

Daar was veral Makhaya Ntini, wat met sy 390 toetspaaltjies slegs deur Dale Steyn en Shaun Pollock in ons geskiedenis geklop kon word.

Dan was daar ook die briljante Herschelle Gibbs (kolfgemiddelde 41,95 in 90 toetse met ʼn hoogste telling van 228, en daardie ongelooflike 175 in ʼn eendaagse wedstryd teen Australië). Vernon Philander, Suid-Afrika se heel voorste veelsydige speler van kleur wat nou Pakistan se tussentydse boulafrigter is, het in 64 toetse 224 paaltjies teen 22,32 elk geneem en het as ʼn laerorde-kolwer ʼn kolfgemiddelde van 24,04 daargestel (beter as Shaun Pollock se 23,11-boulontleding en net-net swakker as Allan Donald se 22,25. Pollock se kolfgemiddeld was 32,3).

Nou is daar ook spelers soos Kagiso Rabada, Keshav Maharaj, Tabraiz Shamsi en Lungi Ngidi wat hulle voeg by Omar Henry, Paul (Gogga) Adams (134 paaltjies), Ashwell Prince (11 honderd- en 11 vyftigtalle teen ʼn kolfgemiddelde van 41,64), JP Duminy (gemiddeld 32,85 – ses honderdtalle en agt vyftigtalle), die Pakistani Imran Tahir, Rory Kleinveldt, en Alviro Petersen wat ʼn gerekende groter bron verskaf waaruit gekies kon word.

Eendaagse wedstryde

Vernon Philander vier ’n paaltjie. Foto: ICC Twitter.

Hier is Nieu-Seeland verreweg die slegste van Suid-Afrika se “ou” teenstanders daaraan toe (ons het nie voor 1991 eendaagse wedstryde gespeel nie).

Teen Australië loop Suid-Afrika net-net met 51-48 wenne (plus drie gelykop) en teen Engeland met 30-28 voor.

T20

Tot 21 September het Suid-Afrika gemiddeld 57,74% van sy 142 T20I-wedstryde gewen. Dit sluit in oorwinnings teen Afghanistan (2 uit 2), Bangladesj (6 uit 6), Ierland (3 uit 3), Zimbabwe (5 uit 5) Nieu-Seeland (11 uit 15) en Nederland en Skotland (albei 1 uit 1).

Suid-Afrika kon dus 29 wedstryde teen die bogenoemde spanne wen.

Teen die ander spanne saam is Suid-Afrika se wenpersentasie net-net oor die 50%.

Teen Engeland is Suid-Afrika met 9-8 en teen Australië met 13-8 voor.

Algemeen

Dit gaan redelik goed met ons krieket. En die span moenie met die supersterre van ons era onder veral Graeme Smith vergelyk word nie. Die manne is egter, met hier en daar ʼn sporadiese uitsondering, heeltemal opgewasse vir internasionale krieket teen die bestes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

piet ·

Sal nogal moeilik wees om weer tot by ons vorige laagtepunt van 22% wen-rekord te draai. LOL, ek lag nog steeds oor hoe pateties ons was toe net die wit ouens kon speel.

JN ·

Dit lyk nie rooskleurig vir die verlepte balvuisende knielende verlepte petunias nie…
Opkomende jong talent wat destyds opgelewer was soos die Kallise en ABs, Alans,Kluseners,Gibbs etc is nie meer te bespeur in Suid Afrika nie inteendeel net knielende twee en derderangse kwaliteit wat alewig choke, en ai dit manifesteer in hul spel en ranglys status…
Nee wat ploeter maar so voort met jul politiek/sport en sien hoeveel ondersteun jul.
Teminste kan die verlepte petunias toenadering vind in die wete dat Piet hul altyd sal ondersteun al hoe knielende balvuisende vrot en vrotter..

piet ·

Genade, maar ons was uiters swak gedurende Apartheid en ons het nie eers teen die ander lande se sterkste spanne gespeel nie. 22% wen-rekord, sies. Erger as ons 30% matrikulante. Stel jou voor jy kry 22% in die eksamen, dan weet jy mos so min soos ‘n kat van saffraan. LOL. Dankie tog vir die gekleurde spelers wat ons span daadwerklik versterk het en ons verdere verleentheid spaar.

Keelvol ·

Genade tog Piet. Gedurende apartheid was ons spelers op meriete gekies. Vandag se spelers word as gevolg van vel kleur gekies, terwyl die beste spelers oorgesien word. G’n wonder dat die krieket en sokker so n verleentheid is nie. Hulle kom nie eers deur na die playoffs toe nie.

piet ·

22%, LOL. En spelers is nie gedurende Apartheid op grond van velkleur gekies nie? Julle ouens druk julself so vas in ‘n hoekie dis eintlik lagwekkend. Duidelik was daar spelers van kleur wat die span merkwaardig sou kon versterk het. Daai spanne is definitief nie op meriete gekies nie, die rassisme van die dag het ons duidelik teruggehou om beter spelers te kies. Kyk, ek het geweet ons krieket was swak gedurende Apartheid maar so swak, eish. Ek sou my morsdood geskaam het as ek die regering van die dag was. Wat ‘n verleentheid vir die land.

Keelvol ·

Ouers soos ons? Rêrig Piet. Naas ouens soos Klushner, Jonty, Hansie, Allen, Clive, net n paar van om te noem was daar nog nie weer sulke gehalte spelers nie. Jou spelers “van kleur” word gekies oor sy vel kleur nie meriete nie. Hulle is nikseggend nie. Hulle is eintlik n verleendheid. Die ouens vir wie jy jou so “skaam” sal jou spelers “van kleur” n ding kan wys. Gaan buig jou knieg dis al waar voor…..

Dirk Mostert ·

Daar was min te kies tussen die Proteas en Australie. Net ‘n paar onnodige, dom wydlopers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.