Mening: SA se krieket-kopseer strek verder as net hul vertonings

Sri Lanka se snelbouers het drie vinnige Proteapaaltjies geneem. Hulle het vroeër vanjaar die eerste span vanuit Asië geword om ’n toetsreeks in Suid-Afrika te wen. Foto: Cricinfo.

Die blydskap van die dramatiese ommekeer wat Rassie Erasmus as afrigter en direkteur van rugby op die speelveld en ook ten opsigte van Suid-Afrika se strukture teweeggebring het, het die afgelope weke grootliks die afgrond verbloem waaroor Suid-Afrikaanse krieket hang.

Hier dink ʼn mens natuurlik sommer dadelik aan die vernederende 3-0-reeksneerlaag teen Indië die afgelope ses weke. Maar dit is maar net die oortjies van die seekoei …

Dié reeksneerlaag het beteken dat die Proteas vyf agtereenvolgende neerlae gely het nadat hulle in Februarie teen die verwagting in albei toetse op eie bodem teen ʼn uiters middelmatige Sri Lanka verloor het.

Suid-Afrikaanse krieket klou ook verbete vas aan ʼn paar onwerklike verwagtinge om die spel van bankrotskap te red.

Terwyl daar steeds, heeltemal onrealisties, gehoop word dat die finansiële fiasko oor die volgende paar jaar omgeskakel kan word, lyk dit of dit te laat gaan wees om ʼn verdere uittog van spelers te verhoed.

Kom ons kyk na die feite:

  • Krieket Suid-Afrika (KSA) het sy verwagte verlies van R654 miljoen oor die volgende vier jaar ietwat aangepas ná ʼn begrote verlies van R350 miljoen oor die selfde tydperk.

 

  • Die reddingshoop, soos glo KSA, is die Mzansi Superliga wat verlede jaar van stapel gestuur is en saam met die verdere verwatering van die spel op franchise-vlak die antwoord sal wees.

Ja, ons praat hier van die nuwe T20-reeks, wat vanjaar wêreldsterre sal insluit, maar wat in 2018 volgens die KSA ʼn verlies van R200 miljoen tot gevolg gehad het. En soos sake nou staan, het hulle nog nie ʼn hoofborg vir die reeks wat op 8 November begin nie.

Nugter weet waar die geld vandaan sal kom om oor die volgende vier jaar die spel aan die gang te hou. En of sake dan uit die niet sonder geldelike probleme sal wees.

  • Die KSA is pas hof toe gesleep deur die spelers omdat hulle nog nie hul betaling vir kommersiële regte vir deelname aan verlede jaar se MSA ontvang het nie.

 

  • Een van die “oplossings” waardeur die verwagte verlies met sowat R300 miljoen verminder sal word, is die samevoeging van die ses vierdaagse franchise-spanne waar krag teen krag speel met die 14 provinsiale spanne wat tot ses verminder sal word.

Die ses franchise’e, die Cape Cobras, Warriors, Dolphins, Knights, Highveld Lions and Titans sal van aanstaande jaar af saam met ses van die 14 provinsiale spanne speel. (Die Cape Cobras en sy provinsiale span, die Westelike Provinsie, die Dolphins en KwaZulu-Natal, en ook die ander vier provinsiale spanne wat franchise-spanne het, word nou almal ʼn enkele span in die nuwe reeks wat in Mei aanstaande jaar begin).

Die 12 spanne sal oor drie jaar in twee afdelings volgens hul sterkte ingedeel sal word.

Die plan van KSA het reeds vanaf die franchisespelers die wind van voor gekry. Hulle vrees hul inkomste sal gesny word.

Dale Steyn en ander spelers se uittrede het weliswaar groot leemtes gelaat. Foto: GB Jordaan.

Die aanduidings is daarom geen verrassing nie dat heelparty van hulle ook oorsese weivelde sal gaan soek.

  • Vir die toer na Indië is die bekwame provinsiale afrigter wat die Highveld Lions tot die land se voorste span afgerig het, Enoch Nkwe, as waarnemende spandirekteur (glo die nuwe naam vir afrigter) aangestel.

Dít ondanks hy geen ervaring hoegenaamd, selfs as hulpafrigter, op internasionale vlak had nie. (Nkwe se titel is waarnemende spandirekteur, terwyl Corrie van Zyl die waarnemende direkteur van krieket is.)

As tussentydse afrigter met ʼn tussentydse span hulpafrigters, was die toer gedoem – ondanks die reeksoorwinning einde verlede jaar toe Indië in Suid-Afrika met 2-1 in die reeks geklop is.

Van Zyl en Nkwe se permanente aanstellings is noodsaaklik om met beplanning voort te gaan.

  • Die man wat vir die aanstellings verantwoordelik is, is die uitvoerende hoof Thabang Moroe wat sonder die KSA-raad besluite en beslissings kan maak, insluitende aanstellings soos genoemde twee.

Hoe langer Suid-Afrikaanse krieket met onsekerheid rondploeter van wie afrig, wat hierdie afrigter in gedagte het en wie sy hulpafrigters is wat na sake soos die kolfwerk, boulwerk en veldwerk moet omsien, hoe groter sal die onsekerheid by die spelers word.

Toegegee, daar is groot geeste soos, onder meer, Jacques Kallis, Dale Steyn, Abe de Villiers, Mark Boucher, Morné Morkel en Hashim Amla wat skielik nie meer daar is nie.

Daar is ook bewese en opkomende sterre soos ondermeer Kyle Abbott en Simon Harmer (terloops, hy was die afgelope twee seisoene die voorste bouler in Engelse Graafskapskrieket), Rilee Rossouw, Heino Kuhn, Duanne Olivier, Stiaan van Zyl en Marchant de Lange wat Kolpak toe is.

Hoe sal die finansiële probleme realisties opgelos kan word? Hoe sal die spelerskrag herstel word?

Dis antwoorde waarmee die KSA spook en waaroor die man op straat kopskuddend wonder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerseun ·

Die skrywer gryp maar bietjie hier. “Skielik” is groot geeste nie meer daar nie. Jong, Abie, Kallis speel al n ruk nie meer nie, en Boucher seker vir 10 jaar nie meer nie?? Dan Amla is dalk nou weg maar het niks beteken die laaste 2 jaar, en Steyn self was beseer die laaste 2 jaar.

En waar is die kastige golden child bowlers waaroor almal so tekere gegaan het 2 jaar terug, Rabada,Ngidi ens.

JohanL ·

My eenvoudige hartskeurende realistiese boodskap : RIV SA Krieket.

Diagnose : Politieke inmengery

Prognose : Swak – geen kans op herstel terwyl Dr ANC in beheer is.

J ·

Jy kan uittredes net vir so lank blameer. Faf se dae is op, hy het besluit as Kaptein, dat hy eerder in Engeland gaan 20/20 speel. Sien jy dat Kohli,wel enige ander kaptein dit doen?? Nee. Patetiese “leier”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.