Merkwaardige Heinrich bly op voorvoet teen lewe se opslagballe

Heinrich Badenhorst bid voordat hy gaan kolf. Foto: Verskaf.

Maroela Media het verlede jaar berig oor Heinrich Badenhorst, die talentvolle jong krieketspeler van Pretoria wat met marmerbeensiekte (sklerosteose) gebore is. Dit is ’n seldsame genetiese afwyking waarmee net meer as 100 mense wêreldwyd gediagnoseer is.

Heinrich is deesdae ’n graad 8-leerder aan die Hoërskool Menlopark en sy kolf doen steeds die praatwerk: Hy is nou die jongste speler ooit om vir die Titans se senior dowe krieketspan op die veld te stap.

Weens marmerbeensiekte kan sy skedel verdik – ’n uiters gevaarlike stand van sake omdat daar dan drukking op die brein en breinstam geplaas word. Gesigsverlamming en gehoorverlies is ook van die ernstige nagevolge.

Foto: Verskaf.

Hy het reeds op vierjarige ouderdom sy eerste operasie ondergaan om die kanale waarin sy sig- en gehoorsenuwees lê, oop te maak om sodoende die drukking te verlig.

“Die operasies was noodsaaklik om die senuwees te beskerm sodat dit nie deur die groeiende been vasgedruk word nie. Hy het later gehoorapparate begin dra omdat sy gehoorkanale toe is en nie soos ander mense s’n funksioneer nie,” het sy ma, Liezl, destyds vir Maroela Media gesê.

Die Titans-beloning is ongetwyfeld ’n ongelooflike prestasie deur ’n merkwaardige Suid-Afrikaner wat op die voorvoet bly, ongeag hoe moeilik die lewe se opslagballe is.

Die Badenhorst-gesin is onlangs deur nóg dieper waters nadat sy pa vier maande gelede aan Covid-19-komplikasies gesterf het.

“Ek is nie bang of hartseer nie, want ek weet my pa is steeds hier by my,” het Heinrich gesê.

Volgens Liezl is haar seun ’n rots in hierdie onsekere tye.

Hy was ook een van Laerskool Tygerpoort se sterre. Foto: Verskaf.

“Ondanks alles wat ons gesin en hy moes deurmaak, staan hy sterk en wys wat gedoen kan word. Sy onwrikbare geloof in God is ook ’n voorbeeld vir ons.”

As huiswerk en eksamens nie in die pad is nie, skaaf hy daagliks aan sy krieketvaardighede.

“Dit gaan goed met my in die hoërskool en ek doen my bes om van my drome ’n werklikheid te maak – daar is immers nog soveel dinge wat ek op die krieketveld wil bereik. Ek wil eendag ’n Indiese Premierliga-kontrak losslaan, terwyl ek hard werk om die beste veelsydige speler en bybreekbouler ter wêreld te word.”

Al is hy nou maar eers aan die begin van sy hoërskoolloopbaan, is Heinrich Badenhorst reeds ’n groter held as baie van die meer gevestigde sportsterre.

Wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Vrijburger

‘n Inspirasie.