Merkwaardige oorwinning vir SA na moeilike begin

Die Proteas vier hul oorwinning. Foto: AP Photo/Rob Griffith

Die Proteas vier hul oorwinning. Foto: AP Photo/Rob Griffith

Suid-Afrika het Maandag die eerste kriekettoets teen Australië op die Waca in Perth op merkwaardige wyse gewen, nadat hulle ná die eerste dag se spel oënskynlik teen die planke was.

Die Proteas, wat Maandag ses paaltjies op die laaste dag moes neem om die toets te wen, terwyl Australië ʼn onbegonne taak gehad het om 539 in hul tweede beurt vir ʼn oorwinning aan te teken, het die laaste Aussiekolwer met die totaal op 361 laat stap en met 177 lopies gewen.

Die 21-jarige Kagiso Rabada, wat as die speler van die wedstryd aangewys is vir sy boulontleding van 5/92 in die tweede kolfbeurt van Australië, het die vasberadenheid en spangees van die Proteas na die moeilike eerste dag versinnebeeld toe hy gesê het ʼn toets word nie op die eerste dag gewen nie.

Die vyfde dag van die toets het Maandag begin met Usman Khawaja (58) en Mitchell Marsh (15) wat die kolfbeurt op 169/4, 369 lopies agter die Proteas se totaal van 538, moes voortsit. Die realistiese uitweg vir die Aussies was om voor die penne te bly en ʼn onbesliste uitslag af te dwing.

Marsh se paaltjie het geval met sy telling op 26 en sy span se telling op 196/5. JP Duminy het hom beenvoor betrap.

Khawaja het goed gekolf, maar was met sy telling op 97 beenvoor teen Rabada, met Australië se telling op 246/6. In die afwesigheid van die beseerde Dale Steyn, moes Suid-Afrika se boulers baie hard werk, ondanks die krake in die kolfblad. Kevash Maharaj het in sy debuuttoets beïndruk en die kolwers deurgaans onder druk gehou.

Hy het weereens die belangrikheid van ʼn goeie draaier, wat lang skofte in toetse kan boul, bewys – en dit was veral belangrik in hierdie wedstryd waarin Steyn afwesig was.

Rabada het hard gewerk en goed geboul. Hy het nou, in net nege toetse, vier keer vyf paaltjies in ʼn beurt geneem. Wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat hy 31 beurte uit ʼn totaal van 119 in die tweede beurt afgestuur het.

Vernon Philander het Peter Siddle se paaltjie met die nuwe bal gekry, beenvoor vir 13 met die telling 280/8.

Temba Bavuma het sy eerste toetspaaltjie gekry toe Josh Hazlewood (29) op 345/9 van sy boulwerk uitgevang is.

Bavuma  het op nog twee geleenthede amper deurgebreek. Die eerste keer het hy oorgetrap met ʼn gunstige beenvoor-beslissing en daar was ook ʼn verbroude vangkans. Sy briljante uithardloop van die gevaarlike Warner was dalk die enkele belangrikste paaltjie van die kolfbeurt.

Omdat net een paaltjie nog staande was, is teetyd met ʼn halfuur uitgestel.
Maharaj het na sy harde werk en suksesvolle eerste toets vir Nathan Lyon beenvoor betrap en Australië was almal uit vir 361. Peter Nevill, met 60, was die onoorwonne kolwer.

Rabada is gepas as speler van die  wedstryd aangewys. Faf du Plessis se taktiese kapteinskap moet ook nie as ʼn belangrike aspek van die oorwinning onderskat word nie.
♦ Dit is die vierde keer wat die twee spanne ʼn toets op die Waca speel. Suid-Afrika het na die eerste een in 2005, wat onbeslis was, die volgende drie toetse gewen.

Daar is net een keer op die Waca ʼn honderdtal teen Suid-Afrika aangeteken (203 deur Brad Hodges in  2005) en die Proteas het self sewe honderdtalle geslaan. Suid-Afrika sal nie weer ʼn toets op die Waca speel nie, aangesien die nuwe stadion reeds in aanbou is.

♦  Die tweede toets begin op 12 November in Hobart, waar daar verwag word dat reën ʼn rol sal speel.

Opgesomde telkaart –

Australië (tweede beurt) 361: (Kolwers: David Warner 35, Shaun Marsh 15, Usman Khawaja 97, Steven Smith 34, Adam Voges 1, Mitchell Marsh 26, Peter Nevill 60, Josh Hazlewood 29. Boulers: Kagiso Rabada 5/92, Vernon Philander 1/55, JP Duminy 1/51, Keshav Maharaj 1/94, Temba Bavuma 1/12)

Suid-Afrika (tweede beurt) 540/8 verklaar (Kolwers: Dean Elgar 127, JP Duminy 141, Vernon Philander 73, Quinton de Kock 64, Keshav Maharaj 41*, Faf du Plessis 32, Temba Bavuma 8, Stephen Cook 12, Hashim Amla 1. Boulers: Mitchell Starc 1/114, Josh Hazlewood 2/107, Peter Siddle 2/62, Mitchell Marsh 2/77, Steve Smith 1/3)

Australië (eerste beurt): 244 (Kolwers: David Warner 97, Shaun Marsh 63, Adam Voges 27, Peter Nevill 23. Boulers: Vernon Philander 4/56, Keshav Maharaj 3/56, Kagiso Rabada 2/68, Dale Steyn 1/51)

Suid-Afrika (eerste beurt): 242 (Kolwers: Quinton de Kock 84, Temba Bavuma 51, Faf du Plessis 37. Boulers: Mitchell Starc 4/71, Josh Hazlewood 3/70)

Suid-Afrika wen met 177 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.