MI Cape Town kies David om boulers te timmer

Tim David in aksie vir die Mumbai Indians. Foto: Twitter.

MI Cape Town het vir Tim David nadergetrek om die beseerde Liam Livingstone se skoene vir die res van die SA20-toernooi vol te staan.

Livingstone, wat as een van die gevaarlikste T20-spelers ter wêreld gereken word, het sy knie in Engeland se onlangse toetsreeks teen Pakistan beseer en hy het nie ʼn enkele wedstryd in die plaaslike mik-en-moker-skouspel gespeel nie.

David is egter ʼn uitstekende plaasvervanger.

Die 26-jarige Australiër – wat in Singapoer gebore is – het reeds 3 261 lopies in 152 wedstryde teen ʼn flinke treftempo van 162,88 geslaan. Hy het terselfdertyd ook 193 sesse gemoker.

Sy waarde as T20-speler het ʼn aansienlike hupstoot gekry toe die eienaars van die Mumbai Indians hul beursies groot oopgemaak het om sy dienste vir die onlangse Indiese Premierliga te bekom.

Hy het weliswaar net 86 balle vir sy IPL-span trotseer, maar hy het 16 aflewerings vir ʼn ses geslaan.

  • Punteleer:
  1. Pretoria Capitals: 23 punte ná sewe wedstryde
  2. Sunrisers Eastern Cape: 17 punte ná agt wedstryde
  3. Paarl Royals: 17 punte ná agt wedstryde
  4. Joburg Super Kings: 16 punte ná sewe wedstryde
  5. MI Cape Town: 13 punte ná sewe wedstryde
  6. Durban’s Super Giants: 8 punte ná sewe wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.