Mignon voortaan ’n Hurricane

Mignon du Preez. Foto: Twitter.

Ná 64 wedstryde vir die Melbourne Stars in die Big Bash League sal Mignon du Preez voortaan vir die Hobart Hurricanes speel.

Die 32-jarige Suid-Afrikaner was ongetwyfeld een van die Melbourne-span se sterre – in een seisoen het sy 380 lopies teen ’n treftempo van 122,58 gemoker. Tog sien sy uit na die nuwe avontuur in Australië.

“Die WBBL is ’n wonderlike kompetisie en van die beste vrouekrieketspelers ter wêreld speel in die toernooi. Ek dink die Hurricanes het ’n sterk span en ons kan beslis met ’n goeie vertoning vorendag kom,” het Du Preez gesê.

Sy het destyds ’n vyftigtal in haar debuutwedstryd vir die nasionale vrouekrieketspan teen Pakistan geslaan, terwyl die Proteas onder haar leierskap hul eerste reeksseges in Indië en Bangladesj gesmaak het.

Hoewel sy in 2016 afstand van die kapteinskap gedoen het om op haar kolfwerk te konsentreer, het sy steeds haar stempel baie duidelik by die T20-Wêreldbeker in Australië afgedruk. Haar ses in die laaste boulbeurt teen Engeland het die wedstryd vir die Proteas beklink.

“Ek beskou my kriekettalent as ’n gawe van Bo. In moeilike situasies onthou ek altyd dat my hulp van God kom en dat ek deur Hom tot alles in staat is. Dan dink ek ook dat die vermoë om druksituasies te hanteer mettertyd aangeleer kan word,” het sy destyds aan Maroela Media gesê.

Meer onlangs was sy deel van die suksesvolle Protea-span wat Indië weg van die huis ore aangesit het.

In die reeks se vierde kragmeting het Du Preez se beurt van 61 van 55 aflewerings ’n deurslaggewende rol in die Suid-Afrikaners se suksesvolle lopiejaagtog gespeel.

Die Proteas het Indië se telling van 266/4 op ’n drafstap verbygesteek en dit was hul hoogste suksesvolle lopiejaagtog nóg.

“Dit is ongetwyfeld ’n massiewe selfvertroue-inspuiting vir ons span; veral as jy in ag neem dat ’n paar van ons senior spelers nie beskikbaar is nie. Dit was ’n spesiale vertoning,” het Du Preez ná die wedstryd gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.