Mik-en-moker-reeks slaan nie KSA se probleme vir ’n ses

Mark Boucher. Foto: Facebook.

Die Mzansi Superliga begin Vrydag op die Wanderers wanneer die Jozi Stars (die verdedigende kampioen) vir die Cape Town Blitz aanvat.

En soos gewoonlik – net soos by enige T20-wedstryd – sal daar hope vermaak en ses-slaanaksie by die wedstryde wees.

Maar, waarsku Mark Boucher, moenie dat die vuurwerk en danspassies jou ’n rat voor die oë draai nie: Suid-Afrika se krieket is steeds glad nie op ’n goeie plek nie.

“Ek dink daar is belangriker kwessies wat nou aandag moet geniet en ek dink daar is ’n hele paar mense wat na dié toernooi sal kyk en sê ons is besig om die werklik stand van sake toe te smeer. Ons krieket is ’n slegte toestand en hopelik is daar ’n paar slim mense wat die trein weer op die spore kan kry,” het Boucher gesê.

“Nes verlede jaar sal die toernooi weer lekker ondersteuning geniet, maar ons moet baie versigtig wees om nie te veel klem daarop te plaas nie. Daar is baie groter probleme wat eers uitgesorteer moet word.”

Volgens Boucher praat die res van die krieketwêreld oor die stand van sake in Suid-Afrika.

“Dit is iets wat glad nie goed is nie. Dit is hartseer om te lees en hartseer om te hoor.”

Intussen is AB de Villiers ook een van die legendes wat vra dat Krieket Suid-Afrika by die Springbokke moet leer.

Toe Rassie Erasmus so twee jaar gelede die Bok-leisels oorgeneem het, was SA Rugby ook in ’n krisis.

“Ek sien baie Rassies in die krieketwêreld ook,” het De Villiers gesê.

“Ek is baie seker dat Enoch Nkwe die insette van ’n Mark Boucher, ’n Jacques Kallis of ’n Graeme Smith sal verwelkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.