Mik-en-mokerreeks begin teen Pakistan

Janneman Malan en Mohammad Rizwan. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Heinrich Klaasen sal ’n jong en onervare span op die veld lei wanneer die Proteas vandag teen Pakistan in die eerste T20-wedstryd in Lahore speel.

Voeg daarby die toetsspan se reeksnederlaag en die tuisspan is ongetwyfeld die gunsteling om ook in die mik-en-mokerreeks met die louere weg te stap.

O ja, dan kon die Proteas nie een van hul laaste vyf T20-reekse wen nie.

Daar is darem iets wat in die Proteas se guns tel: In die kortste formaat van die spel kan enige span vir ’n opskudding sorg.

En dit is nie asof die Proteas met hopelose spelers sit nie.

David Miller is ’n veteraan van 78 internasionale T20-kragmetings en hy het meer as genoeg ervaring in T20-reekse oor die hele wêreld opgedoen.

Hy het juis in ’n onlangse onderhoud gesê dat hy sy stempel op die reeks sal wil afdruk. Dit is iets wat ander senior spelers soos Faf du Plessis en Quinton de Kock nie in die afgelope toetsreeks gedoen het nie.

“Ek wil die spelers gerusstel wat nie veel internasionale ervaring het nie, terwyl ek ongetwyfeld my kant op die speelveld wil bring,” het Miller gesê.

Gelukkig behoort die opwindende Janneman Malan ook speelkans te kry.

Die 24-jarige Kapenaar het ’n onoorwonne 129 in die tweede eendagwedstryd teen Australië geslaan, terwyl hy ook goeie spelpeil in die plaaslike witbalkrieketreeks getoon het.

In 45 eersterangse T20-kragmetings het Malan 1 369 lopies teen ’n treftempo van 135 gemoker. Mag hy met vryheid kolf en nie veel oor die toetsspan se wroegings tob nie.

Op die boulfront sal Suid-Afrika op die variasies van Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Tabraiz Shamsi en Lutho Sipamla moet staatmaak.

  • Proteas se T20-groep vir die reeks teen Pakistan: Heinrich Klaasen (kaptein), Nandre Burger, Okuhle Cele, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, George Linde, Janneman Malan, David Miller, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Ryan Rickleton, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Jon-Jon Smuts, Pite van Biljon, Glenton Stuurman en Jacques Snyman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.