Miller beklink wedstryd met ses

David Miller was op sy beste vir die Gujarat Titans. (Foto: Saijjad Hussain/AFP)

David Miller het weer sy wa-deur-die-drif-trek-vaardighede uitgestal in die Gujarat Titans se oorwinning teen die Sunrisers Hyderabad in Ahmedabad.

Die Suid-Afrikaner het ’n onoorwonne beurt van 44 lopies van slegs 27 aflewerings gespeel en hy het die kragmeting vir sy span met ’n ses van Jaydev Unadkat se boulwerk beklink.

Die Titans het met sewe paaltjies gewen en Miller moet ongetwyfeld as een van die beste mik-en-moker-spelers in wêreldkrieket gereken word. Hy beskik oor die vermoë om koelkop in moeilike situasies te bly, terwyl hy maklik na ’n hoër rat kan oorskakel as dit moet.

Vroeër is die Sunrisers – wat 277 lopies in hul vorige wedstryd aangeteken het – tot 162 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte beperk.

Aiden Markram het 17 lopies aangeteken, terwyl Heinrich Klaasen twee sesse geslaan het voordat hy deur Rashid Khan vir 24 lopies skoongeboul is.

“Ons het seker 15 lopies te min op die telbord gehad. Ons het hopeloos te veel paaltjies verloor en nie een kolwer kon ʼn vyftigtal aanteken nie. Sulke dinge gebeur in krieketwedstryde en dit was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne,” het Pat Cummins gesê.

Volgens die Sunrisers-kaptein kan die son sekerlik nie met elke wedstryd op sy kolwers skyn nie.

“Hulle het ʼn paar uitstekende wedstryd agter die blad en hulle het eintlik vandag weer goed gelyk. Die paaltjies het ons net momentumgewys gekniehalter.”

  • Opsomming van die telkaart:

Sunrisers Hyderabad 162/8 in 20 boulbeurte: Abhishek Sharma 29, Abdul Samad 29 en Mohit Sharma 3/25.

Gujarat Titans 168/3 in 19,1 boulbeurte: Sai Sudharsan 45, David Miller 44* en Pat Cummins 1/28.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.