Miller, draaiers speel Iere deurmekaar

David Miller op die voorvoet teen Ierland. Foto: Twitter.

Vóór die laaste paar T20-wedstryde teen Ierland het dit gelyk of die oplossing tot die Proteas se gesukkel op die krieketveld niks met spelpeil, afrigting of selfs politiek te doen gehad het nie.

Dit wou eerder voorkom asof die wetenskap die antwoord ingehou het; as die span maar net vier of vyf (gelukkige) Quinton de Kock-spelers in hul geledere gehad het, sou hulle onstuitbaar gewees het.

Die vergelyking – want wetenskaplikes moet altyd sulke dinge met ’n kleurpen op die witbord teen die muur skryf – is ook eintlik heel eenvoudig: “De Kock speel, span wen”.

Maar gister in Belfast het David Miller uiteindelik weer vlam gevat om die Protea-kastaiings uit die vuur te krap.

Temba Bavuma (0) en Janneman Malan (0) is in die eerste boulbeurt uitgehaal, terwyl Aiden Markram (8) ook nie lank gehou het nie. Toe De Kock met sy telling op 27 been voor paaltjie van Simi Singh se eerste aflewering betrap is, was die Suid-Afrikaners diep in die moeilikheid met hul telling op 38/4.

Miller het egter destyds vóór die reeks teen Pakistan gesê dat hy ’n rolmodel vir jonger spelers wil wees en dat hy ’n kolwer wil wees op wie die span in ’n krisis-situasie kan reken.

Ná beurte van 2, 12, 18 en 28 het sy kruitvat uiteindelik ontplof en die 32-jarige kolwer het 75 onoorwonne lopies van slegs 44 aflewerings gemoker. Sy beurt het nege grenshoue (waaronder vyf sesse) ingesluit en hy het saam met Wiaan Mulder (36 van 26 balle) toegesien dat die besoekers hul beurt op 159/7 afsluit.

Daarna het ’n skitterende Tabraiz Shamsi (3/14) en Bjorn Fortuin (3/16) die Iere dronk gedraai om hulle vir 117 uit te haal.

Die Proteas se sege van 42 lopies beteken dat hulle die reeks met een wedstryd oor gewen het. Dit is die Suid-Afrikaners se tweede agtereenvolgende T20-reeksoorwinning nadat hulle ook vroeër met die Wes-Indiese Eilande afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk Mostert

Slim van Bavuma om na net 2 balle uit te gaan. Dit het ons wenkans verbeter. Hy kan natuurlik ook op nommer 11 kolf. Gedurende die 1990s het die Proteas elke keer verloor as Kepler Wessels ‘n stadige 50-tal behaal het.

piet

Daai kwota draaiers se syfers is fenominaal. Dankie tog, lyk my SA het na al die jare darem draaiers wat wedstryde kan wen. Tahir was natuurlik ook briljant maar was mos eintlik ‘n Pakistani. Hierdie ouens het deur die stelsel gekom. As dit nie vir die kwotastelsel was nie, het ons nie hierdie briljante spelers in aksie gesien nie. Shamsi nommer een bouler in die wereld in T20. Ongelooflik.