Miller en Ngidi die uitblinkers in Proteas se T20-sege

Sri Lanka se kaptein, Angelo Mathews, Vrydagaand tydens die T20-wedstryd in Centurion. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Sri Lanka se kaptein, Angelo Mathews, Vrydagaand tydens die T20-wedstryd in Centurion. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Selfs in Vrydagaand se tref-en-trap T20-wedstryd in Centurion, wat weens reën tot tien kolfbeurte per span verkort is, was die tekens daar dat Sri Lanka ook dié reeks teen Suid-Afrika behoort te verloor.

Die jong Proteaspan, met sy vyf nuwelinge, het oortuigend met 19 lopies gewen, na ʼn goeie aanvangsvennootskap van 59 lopies in 5.1 boulbeurte deur Sri Lanka se  aanvangskolwers, Niroshan Dickwella (43, 19 balle, ses viere, twee sesse) en Dhananjaya de Silva (27, 16 balle twee viere, twee sesse).

Suid-Afrika het 126/5 in sy tien boulbeurte aangeteken. Sri Lanka (107/6) kon na De Silva se vertrek op 73/2 ná ses boulbeurte, slegs ʼn verdere 34 lopies in die laaste vier beurte byvoeg.

Vier van die ses Sri Lankane wat uitgehaal is, het agt of minder balle trotseer en so ook die twee nie-uit-kolwers. Hul kolwers, selfs in die onvoorspelbare dobbelkrieket, lyk nie opgewasse nie.

Die toerspan het 40 lopies van die laaste drie beurte benodig, maar het toe drie paaltjies vir drie lopies verloor, na Lungi Ngidi se twee paaltjies in een beurt.

David Miller was die Proteas se kolfheld, met sy 40 in 18 balle, waarvan 30 lopies in grenshoue gekom het – drie sesse en drie viere. Die kaptein, Farhaan Behardien, het met 31 in 18 balle ook in dié twee se vennootskap van 51 in 3.5 beurte die Proteas se telling aansien help gee. Mangaliso Mosehle, wat netjies agter die paaltjies vertoon het, het sy eerste en tot dusver enigste bal in internasionale krieket vir ʼn ses geslaan, voordat sy span se kolfbeurt verby was.

♦  Op ʼn dag waarin 14 sesse en 20 viere geslaan is, het Suid-Afrika se Ngidi die oog gevang met sy blitsballe. Sommer met die tweede bal al het die forsgeboude 20-jarige 140 km per uur gehaal. Sy 2/12 in twee boulbeurte was die beste van die aand, waarin elke bouler tot twee boulbeurte beperk is.

Imran Tahir se 2/23 verdien ook vermelding, ondanks meer losballe as wat in dié  soort wedstryd aanvaarbaar is.

♦  Die tweede van die drie T20wedstryde begin Sondag 14.30 op die Wanderers.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.