Miller en Phehlukwayo lei ‘nuwe’ Proteas tot reekssege

David Miller. Foto: Krieket SA/Twitter

David Miller. Foto: Krieket SA/Twitter

David Miller het Woensdagaand op Kingsmead in Durban met ʼn manjifieke 118 onoorwonne lopies ʼn onwaarskynlike oorwinning teen Australië en ook die eendagreeks vir Suid-Afrika beklink.

Die “nuwe” span van die Proteas, met heelwat nuwelinge, is besig om in ʼn gedugte eenheid te ontwikkel.

Dit was egter nie net Miller, met ses sesse en tien viere in 79 balle wat vir die Proteas hulle derde opeenvolgende oorwinning in die reeks van vyf wedstryde beklink het nie. Die 20-jarige Andile Phehlukwayo, wat in sy vier internasionale wedstryde tot dusver vir die Proteas as bouler sy merk gemaak het, het met oorleg en ʼn onteenseglike goeie temperament 42 onoorwonne lopies in 39 balle (vier viere en twee sesse) aangeteken.

Hy het saam met Miller 107 lopies om die sewende paaltjie in net 70 balle daargestel en die oorwinning is behaal met nog vier balle van die laaste boulbeurt oor.

Wat Miller se beurt des te meer spesiaal maak, is dat hy in die 31ste boulbeurt ʼn liesbesering opgedoen het en gesukkel het om vinnige lopies te hardloop.

Voor dié twee het Quinton de Kock in sy derde opeenvolgende groot aanvangsvennootskap, dié keer 66 in 51 balle saam met Hashim Amla (45 in 30 balle) weer ʼn haastige 70 lopies in net 49 balle geslaan. Faf du Plessis (33 in 32 balle) het ook ʼn stewige bydrae gelewer, maar ná die verlies van Rilee Rossouw (18), JP Duminy (20) en Dwayne Pretorius (15) was die Proteas op 265/6 in die knyp.

Hulle het toe nog 107 lopies in 74 balle benodig om die yslike telling van 371 verby te steek – en toe volg daardie vennootskap wat dit in 70 balle gedaan gekry het.

♦ Australië moes ná nederlae in die eerste twee wedstryde die derde wedstryd op Kingsmead wen om nog ʼn seggenskap in die eendagreeks te hê.

Australië was vanuit die staanspoor, tot en met Miller en Phehlukwayo se vennootskap, in beheer en die Proteas op die agtervoet.

Steve Smith het die loot vir die besoekers gewen en besluit om te kolf. Dale Steyn en Kagiso Rabada het onder die aanslag van Aaron Finch (53 in 34 balle) en David Warner op sy allerbeste (117 in 107 balle met 13 viere en twee sesse) deurgeloop. Steyn was teleurstellend en het eindelik 2/96 lopies in sy tien beurte geneem en Rabada het self 86 lopies afgestaan.

Die Proteas het op die stadige kolfblad gesukkel om deur te breek terwyl die Australiërs vinnig aan ʼn stewige totaal gebou het, hoewel hulle na Warner se vertrek miskien ʼn raps te stadig gekolf het.

Die eerste paaltjie het eers in die 14de boulbeurt geval toe Imran Tahir die vennootskap van 110 lopies verbreek het deur Finch uit te haal. En toe het die besoekers tot 234 voortgekolf voordat Warner uitgehaal is.

Benewens Warner het Smith ook die Proteas laat bontstaan met sy 108 lopies in 107 balle.

Imran Tahir (2/54) was Suid-Afrika se suksesvolste bouler en JP Duminy, wat in sy ses boulbeurte net 32 (5,33 lopies per beurt) afgestaan het, die bestendigste.

Opgesomde telkaart –

Australië 371/6 (50 beurte): Kolwers: David Warner 117, Steve Smith 108, Aaron Finch 53, Travis Head 35. Boulers: Imran Tahir 2/54, Dale Steyn 2/96.

Suid-Afrika 372/6 (49.2 beurte): David Miller 118*, Quinton de Kock 70 Hashim Amla 45, Andile Phehlukwayo 42*, Faf du Plessis 33. Boulers: John Hastings 2/79.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Uiltjie ·

Dit is altyd lekkerrrrrrrrr as one die Down Unders so verneder!!!!

Henk ·

Probleem met Steyn is dat hy die kolwers wil dood gooi/boul met bal in plaas daarvan om hulle met goeie tegnieke soos die regte lyn en lengte plasings van die bal uit te oor le! Die dag as hy dit besef sal hy weer die “ou” briljante Steyn met die bal van vroeer jare wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.