Miller het senuwees van staal

David Miller het nóg ’n wedstryd vir Suid-Afrika met die wilgerlat gewen. Foto: Twitter.

As jy ooit gewonder het hoe om ʼn T20-lopiejaagtog op ʼn vinnige baanblad teen topteenstanders van stapel te stuur, moes jy net vandag na David Miller en Aiden Markram se vennootskap gekyk het.

Die twee Protea-kolwers het 76 lopies om die vierde paaltjie aangeteken en dit het uiteindelik ʼn deurslaggewende rol in Suid-Afrika se oorwinning van vyf paaltjies teen Indië in Perth gespeel.

Danksy die goeie vertoning beklee Temba Bavuma se span nou die eerste plek op die Groep 2-punteleer van die T20-Wêreldbekertoernooi.

Die Proteas – wat 134 lopies vir ʼn oorwinning moes aanteken – was vroeg in die knyp toe Arshdeep Singh van Quinton de Kock en Rilee Rossouw in dieselfde boulbeurt ontslae geraak het.

Bavuma het oudergewoonte meer mis as raak geslaan en toe hy sy paaltjie in die sesde boulbeurt verloor het, het Suid-Afrika met sy telling op 24/3 gesteier.

Maar Miller het tydens die Proteas se laaste reeks teen Pakistan gesê dat hy nie net met meer bestendigheid wil kolf nie, maar ook slim en volwasse krieket wil speel.

Deesdae voeg hy ongetwyfeld die daad by die woord.

Aiden Markram.  Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Hy het saam met Markram die versnelpedaal ná die tienboulbeurtkerf platgetrap en die Indiese boulers onder druk met aggressiewe kolfwerk geplaas.

Veral Ravichandran Ashwin is geteiken en die ervare draaier het meer as tien lopies per boulbeurt afgestaan.

Markram het egter sy paaltjie op die verkeerde tyd verloor, terwyl Tristan Stubbs ook gekom en gegaan het.

Miller het daarna koelkop gebly om die wenlopies met twee agtereenvolgende grenshoue vanaf Bhuvneshwar Kumar se finale boulbeurt te slaan.

Vroeër het Lungi Ngidi onder die Indiese kolwers baljaar om met ʼn boulontleding van 4/29 te spog. Die groot snelbouler is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 133/9 in 20 boulbeurte: Suryakumar Yadav 68, Lungi Ngidi 4/29 en Wayne Parnell 3/15.

Suid-Afrika 137/5 in 19,4 boulbeurte: David Miller 59*, Aiden Markram 52 en Arshdeep Singh 2/25.

Uitslag: Suid-Afrika wen met vyf paaltjies.

  • Groep 2 se punteleer:
  1. Suid-Afrika: 5 punte; netto lopietempo van 2,772
  2. Indië: 4 punte; netto lopietempo van 0,844
  3. Bangladesj: 4 punte; netto lopietempo van -1,533
  4. Zimbabwe: 3 punte; netto lopietempo van -0,050
  5. Pakistan: 2 punte; netto lopietempo van 0,765
  6. Nederland: geen punte; netto lopietempo van -1,948

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Ongelooflik. Bavuma kry dubbeltal lopies (10). Hy nou verseker van plek in die span en sy pos van kaptein is veilig. Wel gedaan ou “groote” geweet was net kwessie van tyd

piet ·

Gaan ons WEER choke? Dalk nie want die druk is baie minder op hierdie span as vorige spanne. Niemand het hulle veel van ‘n kans gegee voor die toernooi nie. Dalk, net dalk verras hulle ons…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.