Miller laat waai vir Gujarat

David Miller het vinnige lopies vir die Gujurat Titans geslaan. (Foto: Twitter/Gujurat Titans)

David Miller, Anrich Nortjé en Rilee Rossouw was gisteraand slaags in ʼn Indiese Premierliga-wedstryd.

En ná 38,1 boulbeurte – om presies te wees – was dit Miller wat die wenlopies vir die Gujarat Titans teen Nortjé en kie se Delhi Capitals geslaan het.

Die Protea-hotkloukolwer het 31 onoorwonne lopies teen ʼn blitsige treftempo van 193,75 geslaan. Sy beurt het vier grenshoue (waaronder twee sesse) ingesluit.

Nortjé het vroeër Gujarat se twee openingskolwers terug na die kleedkamer gestuur en hulle het op 36/2 in antwoord op Delhi se 162/8 gewankel.

Maar Sai Sudharsan het eerstens die kastaiings uit die vuur vir Gujarat gekrap, waarna Miller se vuurwerkvertoning die wedstryd vir sy span beklink het.

Rossouw het egter met nie so ʼn goeie vertoning vorendag gekom nie.

Die 33-jarige kolwer, wat 42 vinnige lopies vir die Proteas teen die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers gemoker het, is nou met sy eerste aflewering vir ʼn nulletjie uitgehaal.

Alzarri Jospeh het hom met ʼn vinnige kort aflewering verras en hy is uitstekend deur Rahul Tewatia op punt uitgevang.

In vandag se wedstryd kruis die Punjab Kings en die Rajasthan Royals swaarde. Kagiso Rabada en Donovan Ferreira kan moontlik speelkans kry.

  • Opsomming van telkaart:

Delhi Capitals 162/8 in 20 boulbeurte: David Warner 37, Axar Patel 36 en Rashid Khan 3/31.

Gujarat Titans 163/4 in 18,1 boulbeurte: Sai Sudharsan 62, David Miller 31* en Anrich Nortjé 2/39.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.