Miller se veldwerk beter as ʼn drankie op ʼn warm dag

David Miller en Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Trevor Collens

Dit is nie aldag dat ʼn kolwer wat 10 lopies van 12 aflewerings in ʼn internasionale T20-wedstryd slaan as die man van die wedstryd benoem word nie. Maar as jou naam David Miller is, kry jy sulke dinge reg.

Die linkshandige kolwer kon Vrydagmiddag nie ʼn enkele grenshou in sy kolfbeurt slaan nie, maar hy het ses Pakistanse kolwers terug na die Nuwelandse kleedkamer gestuur.

Die gevaarlike Babar Azam en Mohammad Rizwan is uitgehardloop, terwyl Shoaib Malik, Asif Ali, Imad Wasim en Hasan Ali almal deur Miller uitgevang is.

Sy veldwerk, saam met Chris Morris en Andile Phehlukwayo se akkurate snelboulwerk, het Pakistan se lopiejaagtog gekelder en hulle was uiteindelik ses lopies kort van Suid-Afrika se telling van 192.

Vroeër het Faf du Plessis en Reeza Hendricks amok onder die besoekers se boulaanval gemaak en saam 131 lopies om die derde paaltjie aangeteken.

Du Plessis (78) het teen ʼn treftempo van 173 gekolf, terwyl Hendricks 10 grenshoue in sy beurt van 74 gemoker het.

Intussen sal Du Plessis en Quinton de Kock die res van die reeks misloop. Du Plessis neem ʼn welverdiende blaaskans, terwyl De Kock las van ʼn liesbesering het.

Die 22-jarige Janneman Malan sal De Kock vervang. Die tweede T20-wedstryd is môre op die Wanderers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.