Miller, Shamsi se harde werk tevergeefs

Suid-Afrika se Andile Phehlukwayo (Februarie 2020) (Foto: Christiaan Kotze/AFP)

Pakistan het vandag die laaste en beslissende T20-wedstryd teen die Proteas met vier paaltjies gewen om die reeks met 2 – 1 te beklink.

Die tuisspan het 16 lopies van die laaste twee boulbeurte benodig om met die louere weg te stap. Hulle het dit toe sommer van een bitter swak Andile Phehlukwayo-boulbeurt geslaan.

Die veelsydige speler van die Dolphins het omtrént in die wedstryd gesukkel. Hy is vir ’n nulletjie uitgehaal toe hy die bal reguit na min of meer die enigste veldwerker op die grens geslaan het, terwyl hy 37 lopies van sy 2,4 boulbeurte afgestaan het.

Ja, hy was nie die enigste Protea wat klei getrap het nie, maar goeiste; jy kan nie in die tweede laaste boulbeurt van ’n naelbytwedstryd bekostig om ’n foutbal af te stuur wat terstond vir ’n ses geslaan word nie.

Daarteenoor het David Miller en Tabraiz Shamsi skitterend gespeel.

Suid-Afrika se David Miller (13 Februarie 2021) (Foto: Aamir QURESHI/AFP)

Die linkshandige Miller het vóór die begin van die reeks gesê dat hy ’n mentor vir die onervare T20-groep wil wees. En dit is presies wat hy vandag gedoen het.

Die Protea-kolwers is weer eens dronk deur die tuisspan se draaiers gedraai en in ’n stadium was die telling 65/7.

Miller het egter met mening die langsteel ingelê en die bal is met reëlmaat oor die grens gejaag. Hy het uitstekend met die stertkantkolwers gekombineer om 85 onoorwonne lopies van 45 aflewerings te moker.

Sy beurt het toegesien dat die Suid-Afrikaners 164/8 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het en toe Shamsi (4/25) gesorg het dat Pakistan op 117/5 gesteier het, het ’n mens aan opskrite begin dink om die Proteas se reeksege te vier.

Maar dit was die spelers, afrigters, joernaliste en ondersteuners nie beskore nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harry ·

Weereens knap gedaan manne. Daar is veggees geopenbaar soos lank laas gesien. Hier is beslis ‘n paar manne wie Mark Boucher met toe oe kan saamneem wereldbeker toe.

Jack Russ1 ·

As jy nie veg gees gesien het in die wedstryd nie, dan het jy dit nie gekyk nie. Daar is spelers wat vreeslik hard geveg het vir die span en dan was daar ander wat al hulle harde werk ongedaan gemaak het. Ek sal geen krediet vir die span gee nie, maar daar is wel individue wat krediet verdien

Jack Russ1 ·

Ek het self begin dink dat daar meer aangaan as net bloot swak spel. Kan nie dink dat een van die senior spelers so af dag het in al die fasette van sy spel nie

Jack ·

Solank daar rasse kwotas voorgeskryf word sal ons nooit ons beste spanne kan saamstel nie. Rasse kwotas lei tot middelmatigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.