Minister kan in KSA se deurmekaarslaai kom krap

Nathi Mthethwa. Argieffoto.

Krieket Suid-Afrika se gelapte bootjie seil van die een storm na die ander. Kort nadat die parlementêre sportkomitee die volledige Fundudzi-verslag ontvang het, het hy die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam behoorlik geroskam.

Daarbenewens het Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, ook die Internasionale Krieketraad (IKR) ingelig dat sy departement moontlik by KSA se sake kan inmeng.

Mthethwa het die organisasie tot 27 Oktober kans gegee om sy huis in orde te kry en inmenging vry te spring.

Maar indien dit wel sou plaasvind, kan Suid-Afrika heel moontlik uit wêreldkrieket geskors word omdat die IKR ’n streng beleid teen regeringsinmenging handhaaf.

Hierdie stand van sake kom nadat KSA nie aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se versoeke gehoor gegee het nie.

Saskok het onder meer gevra om onbeperkte toegang tot die Fundudzi-verslag te kry, maar dit was vir lank een van KSA se bes bewaarde geheime.

Toe hulle uiteindelik met die sak patats vorendag gekom het, was die parlementêre komitee nie baie beïndruk nie.

Argieffoto.

“Nadat ek die besprekings en die daaropvolgende verslaggewing geëvalueer het, het ek nou die punt bereik waar ek geen verdere voordeel in gesprekke met KSA sien nie,” het die minister in ’n verklaring gesê.

Volgens die verklaring glo Mthethwa dat die benadering meriete het dat sportorganisasies hul probleme intern oplos en hy sal KSA so ver moontlik ondersteun om sy toewyding aan krieket te wys.

Die parlementêre komitee het onder meer ook geëis dat KSA-raadslede wie se doen en late deur die Fundudzi-verslag uitgesonder word, voorlopig hul pligte opsy moet stel totdat ’n ondersoek afgehandel is.

Dan is daar ook bevind dat Thabang Moroe – KSA se voormalige uitvoerende hoof – nie geskik vir die pos was nie en dat hy aan nie een van die belangrikste vereistes in die posbeskrywing voldoen het nie.

Die organisasie se tydelike president Beresford Williams was ’n lid van die komitee wat vir Moroe aangestel het.

Tog was die parlementêre komiteevoorsitter, Beauty Dlulane, terselfdertyd ook ongelukkig omdat die verslag grotendeels vir Moroe geteiken het.

“Wanneer jy die verslag lees, is die persoon wat ontslaan is nie gevra om sy kant van die saak te stel nie. Ons kan nie die situasie met só ’n eensydige verslag beredder nie,” het Dlulane gesê.

Die bal is ongetwyfeld nou in Krieket Suid-Afrika se speelveld. Swak bestuur het die organisasie immers tot hier gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Androclus ·

Hy kom van Polisie af en is nou al by sport was hy ooits ‘n konstabel of het hy ooits aan sport deelgeneem.

JN ·

Dit is juis oor die konstante inmenging van die lot wat nie n idee het wat rondom hul aangaan of eintlik omgee nie maar net daar is om n hengse salaris te trek sonder prestasie, meriete of verantwoordelikheid.. S A krieket is klaar reeds in sy kanon so wie gee om?

Andre ·

Gee nie om nie.Breek af. Sport in die land is klaar en ons stel nie meer belang nie.

Koos ·

Hy steur hom nie aan IKR nie ek glo nie hy weet eers wat dit is nie.Ek kyk nou maar IPL as ek krieket wil kyk.Die knap gaan sorg dat ons beste spelers glad nie meer in die arme land wil speel nie.

Niklaas ·

Die minister was weer lanklaas in die nuus gewees. Tyd om stem dik te maak , gewis . Al weet hy nie juis wat aangaan nie. Hy het gesorg dat die IKR nou ook van hom kennis neem.

Dup ·

Tipiese Afrika politiek.Dring daarop aan dat KSA moet transformeer.Vervang dan bestaande persone met politieke/kader aanstellings sonder om kwalifikasies en ander vereistes in ag te neem.KSA stort in duie en korrupsie en onbeholpenheid steek kop uit.Skors sekere van die onbevoegdes plus ander bekwame oud krieketspelers wie gewaag het om sake te kritiseer.SASCOC begin inmeng en Minister stuur dreig boodskappe uit.Einde van KSA……..

Chris dupreez ·

Dit is maar weer n aanstelling gebaseer op kleur in plaas van vermoë om die wek te kan doen

JBN ·

Los hom dat hy maar gerus gaan krap by KSA en verder afbreek. Alles wat die Anc aan vat word n gemors. Stel nie meer belang in kwotasport nie. Breek maar af!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.