Moenie die kolfblad blameer nie, Proteas!

Dean Elgar. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Die laaste nege paaltjies binne 53 lopies het die ou vet tannie uit volle bors aan die sing gesit en gesorg dat Indië die derde kriekettoets Saterdag op die Wanderers met 63 lopies wen.

En dit het niks te doen gehad met die kolfblad nie. En ook nie eens met die boulwerk wat die hele tyd goed maar nie onspeelbaar was nie.

Dean Elgar, wat Vrydagaand pimpel en pers geboul is en ook ʼn kopskandering moes ondergaan het oor die bal wat hom teen die kop getref het, het geveg en gestry.

Hy was uiteindelik onoorwonne op 86 waaraan hy 240 balle en 356 minute gekolf het. Dit was die tweede keer dat hy as aanvangskolwer nie uit nie was – slegs die sesde speler in toetsgeskiedenis wat dit vermag het.

Waar hy aan natuurlike talent tekort skiet, het Elgar met moed en konsentrasie voor vergoed. Elgar het saam met Hashim Amla die tweede paaltjie vir 119 lopies verkoop. Dit het Proteas op koers na ʼn onwaarskynlike oorwinning geplaas nadat die doemprofete Vrydag beweer het die kolfblad was te gevaarlik.

Hierdie twee was in totale beheer nadat hulle die aanvanklike vuur geblus het. Maar toe loop Amla.

Paaltjies wegsmyt soos die Proteas daarná sien ʼn mens selde. Die tweede mislukking van twee van hul grootste name, AB de Villiers (6) en Faf du Plessis (2), in die wedstryd en die voortgesette gesukkel van Quinton de Kock – wat die tweede keer in die reeks met die eerste bal uitgehaal is – het die besoekers, wat platgeslaan gelyk het, laat moed skep.

Die Proteas het Saterdag op 17/1 kom voortkolf. Elgar en Amla het die telling tot 124/2 geneem, en toe het die ineenstorting begin. Op 160/8 was die koeël al lankal deur die kerk.

Mohammed Shami was die groot verwoester naas die ingesteldheid van die kolwers, en het 5/28 geneem.

Dit is slegs Indië se derde oorwinning in Suid-Afrika en hul tweede op die Wanderers.

Telkaart: http://www.espncricinfo.com/series/18065/scorecard/1122278/south-africa-vs-india-3rd-test-ind-in-sa-2017-18

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frans C ·

Die ieenstorting van die Proteas se middel kolforde ( drie kolwers 8 lopies)moet ‘n groot kopseer vir die afrigter wees.
Dit het die Proteas die wedstryd

rollie ·

Swak spankeuse. Kies ‘n ekstra bouler terwyl almal weet die kolfwerk is nie op standaard nie en moet versterk word. Sal ook help as party spelers leer hoe om ‘n bal te vang.

Piet de Jager ·

Sjoe, dis darem blitsvinnige boulwerk: 240 balle binne 36 minute??????????

Phillip ·

Dagsê Piet

Ons vra omverskoning vir die vingerfout. Die berig is reeds gewysig.

Groete

Phillip Bruwer, nms Maroela Media

Auntie Klagat ·

Hou net op met moun as julle n pak gekry het
Elke keer as ons verloor kry almal en alles die skuld behalwe die spelers wat net nie op die dag goed genoeg gespeel het nie.
Nou hoor ek Faf gee die ‘Groundsman se voorbereiding van die blad die skuld vir ons verloor.
Eisssshhhhh FAF raak groot man

Will ·

Sedert die dae van Clive Rice en kie was die Wanderers bekend as die “Groen Mamba” en het die boulers van dieTransvaal “Mean Machine” baljaar op die kolfblad. Dit blyk egter dat daardie klas spelers lankal nie meer bestaan nie, hulle het nooit die kolfblad of die skeidsregters blameer nie en die spel was ‘n lus om te aanskou!

thelsa ·

Die Protea boulers het pateties geboul. Ons veldwerk van onder standaard. Daar is te veel vangkanse verbrou. Die Indiese kolwers het daarinteen gedoen wat ‘n bouler veronderstel is om te doen. Op die paaltjies geboul Kyk maar net hoeveel Protea kolwers hulle paaltjies verloor het agv die paaltjies wat raakgeboul is. Ons wil die kolwers skrik maar met opslagballe wat GEEN kans het om ‘n paaltjie te neem nie. Kom terug na die basiese beginsels van krieket.

Koos1 ·

SA het die Indiers onderskat. Hulle kan mos net draaiballe boul ne?
Indie het snelboulers gekweek wat kers kan vas hou by die bestes in die wereld. Boul spoed van oor 140km/h is bal op bal gemeet. Nee wat, SA het nie mooi geweet wat aangaan in die derde toets nie, en die eerste twee toetse was ook nie baie oortuigend nie. En nou le Australie voor, die span wat Engeland 5-0 gewen het. Daar is baie werk en selfondersoek wat voorle. Dankie Dean, dat jy jou lyf op die spel geplaas het, as die hele span maar net soos jy was in die derde toets.
Dis ‘n hartseer dag as jy van jou boulers verwag om lopies te jaag!

Johan ·

Ek kan aanvaar dat dit ‘n moeilike kolfblad was – maar onspeelbaar en gevaarlik dink ek nie. Was dit nie Faf en mede-spelers wat juis gesê het dat 5-dag toetskrieket gaan daaroor om die speler te TOETS nie? En hierdie toets het ons kolwers definitief geTOETS. Die resultaat? Ek dink ons kolwers het die TOETS gedruip.

Die boulers het redelik gedoen, maar ek voel ons kon beter gedoen het. Moes met beter veldwerk die Indiers vir laer tellings uitgehaal het, wat die laaste kolfbeurt dalk ‘n ander “prentjie” sou gegee het.

Om op te som : as wedstrydknoeiery nie tans so streng dopgheou word nie, sou mens kon sweer dit was in die prentjie. Daai laaste 8 paaltjies hoort nie op toetsvlak so weggeooi word nie. Sekere spelers moet diep introspeksie doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.