Mooi so, Sarel!

Sarel Erwee vier die eerste honderdtal van sy toetsloopbaan. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Dean Elgar het vandag talle in Christchurch onkant betrap toe hy die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.

Net meer as ’n week gelede het die Proteas ook eerste op die einste baanblad teen Nieu-Seeland gekolf: ’n Chaotiese eerstebeurtvertoning het die weg vir ’n vernederende nederlaag van ’n beurt en 276 lopies gebaan.

Boonop weet almal mos dat jy eerste in Nieu-Seeland boul wanneer jy die loot wen.

Maar ná die eerste dag se spel het die Suid-Afrikaners 238/3 op die telbord gehad; meer lopies as wat hulle in die hele eerste toets kon aanteken.

En waar Elgar met sy taktiese waagstuk beïndruk het, het Sarel Erwee se kolf ongetwyfeld die praatwerk gedoen.

Die 32-jarige Erwee – wat die beurt saam met sy kaptein geopen het – het die eerste honderdtal van sy toetsloopbaan aangeteken.

Hy het eers ’n openingsvennootskap van 111 lopies (wanneer laas het só iets gebeur?) saam met Elgar geniet, waarna hy en Aiden Markram ook goed gekombineer het om 88 lopies om die tweede paaltjie aan te teken.

Erwee se beurt het stadig begin, maar soos wat hy gewoond aan die baanblad en die Kiwi-boulers geraak het, het hy met al meer selfvertroue begin kolf.

Hy is uiteindelik met sy telling op 108 deur Tom Blundell agter die paaltjies van Matt Henry se boulwerk uitgevang.

Op sy beurt het Markram – die speler wie se plek in die toetsspan aan ’n dun garingdraadjie hang – heel goed gelyk.

Hy het oudergewoonte met sy dryf- en trekhoue beïndruk en hy was eintlik op sy gemak voor die paaltjies.

Neil Wagner het vir die deurbraak – eintlik heeltemal teen die verloop van die spel – gesorg toe hy Markram in die 70ste boulbeurt van die wedstryd uitgeknikker het.

Toegegee, daar was nie vandag soveel beweging vanaf die baanblad soos in die vorige wedstryd te bespeur nie, maar die Protea-kolwers verdien beslis ’n pluimpie vir hul toewyding en veggees.

Hulle speel al klaar beter as in daardie rampspoedige eerste toets.

Proteas: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma, Kyle Verreynne, Wiaan Mulder, Keshav Maharaj, Marco Jansen, Kagiso Rabada en Lutho Sipamla.

Nieu-Seeland: Tom Latham (kaptein), Will Young, Devon Conway, Henry Nicholls, Daryl Mitchell, Tom Blundell, Colin de Grandhomme, Kyle Jamieson, Tim Southee, Neil Wagner en Matt Henry.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 238/3 ná 90 boulbeurte: Sarel Erwee 108, Aiden Markram 42 en Tim Southee 1/41.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Witbaard ·

vd Dussen is ook besig om lekker krieket te kyk. 13 vn 61 balle nie juis wereldklas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.