‘Môre is nog ’n dag,’ sê Duanne

Duanne Olivier vier die paaltjie van Devon Conway. Volgens die Protea-snelbouler staan die Suid-Afrikaners nog ’n kans as hulle die Kiwi’s vir 180 kan uithaal. Foto: Marty Melville/AFP.

’n Mens kon sommer aan Duanne Olivier se houding sien dat hy nie tevrede is met hoe dinge vandag vir die Proteas op die krieketveld verloop het nie.

Die Suid-Afrikaners is vir net 95 lopies in hul eerste beurt deur Nieu-Seeland uitgeboender – hul laagste telling nóg teen die Swartpette.

Matt Henry was die groot verwoester wat met sy swaai en vaart onder die kolwers gemaai het. ’n Spoggerige boulontleding van 7/23 was sy welverdiende beloning.

Volgens Olivier kan die Suid-Afrikaanse boulers beslis ’n paar dinge by Henry leer.

“Hy het goeie swaai bewerkstellig en ons kolwers moes noodgedwonge na sy aflewerings speel – veral wanneer hy die bal terug na die paaltjies gebring het,” het Olivier ná die dag se spel gesê.

Daarteenoor geniet die Nieu-Seelanders reeds ’n voorsprong van 21 lopies; grotendeels te danke aan die Suid-Afrikaners se swak veldwerk.

Wanneer ’n span net 95 lopies op die telbord het, kan sy veldwerkers nie bekostig om vier vangkanse te verbrou nie.

“Ja, dit is ’n reusefrustrasie vir ’n bouler en ek weet nie eintlik wat die rede daarvoor is nie. Dalk het die ouens konsentrasie verloor? Ons is egter ’n span en niemand sal met opset ’n bal laat val nie, maar vier verbroude kanse is nooit lekker nie.”

Volgens Olivier het die Proteas nog glad nie gehensop nie. Hulle het juis in die afgelope reeks teen Indië gewys dat hulle oor die nodige terugveg-vaardighede beskik.

Die enigste probleem in Nieu-Seeland is dat ’n span eintlik vanuit die staanspoor op sy beste moet wees – daar is nie baie opvangkans in ’n reeks wat net uit twee toetse bestaan nie.

“Dit was hoegenaamd nie ons beste dag nie, maar daar is nog soveel boulbeurte in die wedstryd oor. As ons hulle vir 180 kan uitboul, staan ons nog ’n kans.

“Vandag het Nieu-Seeland ongetwyfeld die septer geswaai, maar môre kan dit ons beurt wees. Ons vertoning in die eerste uur sal deurslaggewend wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Jy kan dit spin soos jy wil maar as jy vir 95 uitgehaal word, is daar min terugkom kans. Baie terleurstellend alhoewel dit lyk asof die blad ietwat noeilik is. Dit opsigself is nog ‘n groter probleem want enige agterstand is dan gewoonlik fataal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.