Morgan: ‘Ek gaan nie in pad van WB-glorie staan’

Engeland se Eoin Morgan. FotoL Dibyangshu Sarkar/AFP.

Eoin Morgan se onlangse vertoning met die kolf is nou nie juis iets waaroor Engelse krieketliefhebbers liries raak nie.

Die 35-jarige kaptein van Engeland se T20-krieketspan het vanjaar 499 lopies in 40 wedstryde teen ’n gemiddeld van 16,63 geslaan. In die onlangse Indiese Premierliga het hy ook kwaai met die wilgerlat gesukkel (kolfgemiddeld van 11), maar hy het toegesien dat die Kolkata Knight Riders vir die eindstryd gekwalifiseer het.

“Ek gaan nie in die pad van die span staan om moontlik die Wêreldbeker-toernooi te wen nie. Ek teken deesdae hopeloos te min lopies aan, maar my kapteinskap is steeds goed,” het die Dublin-boorling gesê.

Swak spelpeil is egter tydelik van aard en volgens Morgan is dit nie die eerste keer in sy loopbaan dat hy vir ’n rits lae tellings uitgehaal word nie.

“My posisie op die kolflys beteken dat ek gereeld risiko’s moet waag om so vinnig moontlik lopies te slaan; dit is maar hoe T20-krieket werk. Ek sal egter aanhou om daardie waagkanse te neem as dit in belang van die span is.”

Die Proteas se Temba Bavuma sukkel ook met sy spelpeil nadat hy vroeër sy hand in ’n wedstryd teen Sri Lanka beseer het.

Die 31-kolwer was Maandag baie stadig uit die blokke in ’n opwarmingswedstryd teen Afghanistan en hy kon net een lopie van sy eerste 12 aflewerings aanteken.

Sy wroeging is uiteindelik deur Mohammad Nabi beëindig toe hy vir 31 van 39 balle uitgehaal is. Sy swak lopietempo het weer ander kolwers onder druk geplaas om vinnige lopies te probeer slaan.

Bavuma het egter reeds gesê dat hy van plan is om die kolfwerk saam met Quinton de Kock te open.

Die Proteas speel vandag in hul tweede opwarmingswedstryd teen Pakistan en die aksie sal om 16:00 begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.