Morkel se besering, reën kan Bangladesj help vasbyt

Die vierde dag se spel in die eerste toets tussen die Proteas en Bangladesj het toe Sondag heel voorspelbaar verloop: die Proteas het die lopies gejaag, aan Bangladesj ʼn teiken gestel en die reën het toe gewen.

Maandag lê daar egter nog ʼn steil bult vir die besoekers voor as hulle die toets wil red, hoewel hulle in die voorspelde donderstorms ʼn bondgenoot mag kry. Hulle sal waarskynlik ook nie te doene kry met Morné Morkel nie.

Hy is ná sy uitstekende boulwerk van die veld af met wat na ʼn spierbesering in sy sy gelyk het.

♦  Bangladesj kolf Maandag voort met hulle telling op 49/3 in die soeke na 424 lopies. Twee van hulle drie paaltjies het in die eerste boulbeurt geval nadat Faf du Plessis aan hulle ʼn teiken van 424 gestel het.

Morkel het vir Mehidy Hasan Miraz met die vierde bal skoongeboul en toe twee balle later vir Momimul Haque beenvoor betrap, hoewel die kykweer wys hy was nie eens naastenby uit nie.

In sy tweede beurt het Morkel die kaptein Mushfiqur Rahim skoongeboul – maar vir die 14de keer in sy toetsloopbaan was dit ʼn paaltjie wat nie getel het nie omdat dit ʼn oortrap-foutbal was.

Daarna het Imrul Kayes en Mushfiqur Rahim (16 nun) vasgeskop en die telling tot 49/3 gevoer voordat Imrul Kayes (32) deur Maharaj uitgehaal en die spelers van die veld is.

Bangladesj moet Maandag nog 375 lopies vir ʼn oorwinning aanteken, wat uiters onwaarskynlik lyk.

♦  Vroeër het Hashim Amla en Temba Bavuma die oornagtelling van 54/2 tot 70 gevoer voordat Amla (28) uit is.

Du Plessis het toe uit die staanspoor vinnig gekolf, en vir Bavuma, wat Sondag aanvanklik steeds stadig gekolf het, aangesteek.

Die twee het met hulle vennootskap van 142 in 174 balle die telling tot 212/4 geneem.

Toe is Du Plessis (81 in 101 balle, ses viere en ʼn ses) op 212 uit en vyf lopies later was dit Bavuma (71 in 107 balle, sewe viere) wat moes stap.

Quinton de Kock (8) was die ander paaltjie wat geval het terwyl Andile Phehlukwayo (6 nun) en Keshav Maharaj (19 nun in 11 balle) die telling tot 247/6 verklaar geneem het.

Vir die volle telkaart en statistieke van die toets, klik op http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075502/South-Africa-vs-Bangladesh-1st-Test-bangladesh-in-south-africa-test-series

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.