Morné draai die Heat-krane oop as plaaslike speler

Morné Morkel. Argieffoto.

Die voormalige Protea-hemelbesem, Morné Morkel, het ’n kontrak met die Brisbane Heat as ’n plaaslike speler vir die komende Big Bash League onderteken.

Die 36-jarige snelbouler – wat in 2018 uit internasionale krieket getree het – woon deesdae in Australië saam met sy vrou en twee kinders.

“Ek geniet steeds my krieket en ek is baie opgewonde om deel van die Heat-opset te word. Ek erken dat dit nogal vreemd sal wees om na myself as ’n plaaslike speler te verwys, maar dit is ’n nuwe hoofstuk van ons lewens waarna ek baie uitsien,” het Morkel gesê.

Morkel is in Vereeniging gebore en het 309 toets- en 188 eendagkrieketpaaltjies vir Suid-Afrika geneem. Hy het veral ’n gedugte bouleenheid saam met Dale Steyn en Vernon Philander onder Graeme Smith se leiding gevorm.

Hy is met die Australiese uitsaaier Roz Kelly getroud en hy het onlangs permanente verblyfreg in die land verkry.

Darren Lehmann, die Heat se afrigter, is opgewonde oor die ervaring wat Morkel tot die span byvoeg.

“Almal wat saam met of teen hom gespeel het, kan van sy menswees getuig. Persoonlik dink ek hy het van sy beste vertonings op die internasionale verhoog gelewer soos wat hy ouer geword het en ek kan nie wag dat hy deel van die groep word nie,” het Lehmann gesê.

AB de Villiers, wat verlede jaar vir die Heat gespeel het, sal die komende toernooi weens die geboorte van sy derde kind misloop.

“Ons jongste kind word binnekort gebore en met ’n groeiende jong gesin, sowel as die onsekerheid oor die Covid-19-reisregulasies, het ek die moeilike besluit geneem om nie vanjaar deel van die aksie te wees nie,” het De Villiers in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.