Morris, Miller skitter vir Royals

David Miller en Chris Morris. Foto: Twitter.

As ’n span R32 miljoen vir jou diens uitgehaal het, dan moet jy hulle met goeie vertonings op die veld terugbetaal. En Chris Morris kon gisteraand met ’n paar sesse sy eerste paaiement met gemak vir die Rajasthan Royals teen die Delhi Capitals nakom.

Die 33-jarige veelsydige speler het 36 lopies van slegs 18 aflewerings gemoker en hy het die wedstryd met nog ’n reuse-ses oor die bykantgrens vir die Royals beklink.

Die Royals – wat 148 lopies vir ’n oorwinning moes aanteken – was vroeër kniediep in die moeilikheid met hul telling op 42/5.

Die Protea-hotklou David Miller kolf egter deesdae met die perfekte balans tussen aggressie en bestendigheid en hy het die Royals-skip na ’n veiliger hawe met sy beurt van 62 lopies van slegs 43 aflewerings gestuur.

Miller het voor Suid-Afrika se T20-toer na Pakistan gesê dat hy met meer volwassenheid wil kolf en dat hy ’n rolmodel vir jong kolwers wil wees.

In sy laaste drie internasionale wedstryde het hy beurte van 85*, 50* en 62 gespeel.

Maar waar Miller beslis deel van die Protea-planne vir die komende T20-Wêreldbeker in Indië gaan wees, is daar nog ’n vraagteken langs Morris se naam.

Hy was weliswaar een van die Suid-Afrikaners se min sterre tydens hul rampspoedige Wêreldbeker-veldtog in Engeland, maar dit was ook die laaste keer wat hy die Protea-hemp aangetrek het.

“Ek het nog nie eens so ver gedink nie. Tans fokus ek net op my vertonings vir die Rajasthan Royals en ek sal aandag aan die Wêreldbeker skenk wanneer ons daar kom. Maar vir eers gaan ek my beste hier vir die Royals lewer,” het Morris oor ’n moontlike Protea-terugkeer gesê.

  • Die Royals het die wedstryd met drie paaltjies gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.