Morris na Hampshire

Chris Morris neem ’n T20-paaltjie vir die Proteas. Foto: GB Jordaan.

Die 32-jarige Chris Morris, wat in die beseerde Anrich Nortjé se plek saam met die Proteas na Engeland toer, sal Hampshire ná afloop van die Wêreldbeker-kriekettoernooi in die plaaslike T20-reeks verteenwoordig.

Morris, wat onder die voorste boulers in vanjaar se Indiese Premierliga tel, sal saam met Rilee Rossouw en Kyle Abbott (wat albei Kolpak-kontrakte onderteken het) vir dié Engelse graafskap op die veld stap.

Die veelsydige speler van die Titans het al vantevore vir Surrey graafskapkrieket gespeel en Hampshire se direkteur van krieket, Giles White, glo sy span het ’n lekker slag met Morris geslaan.

“Chris is ’n dinamiese middelorde-kolwer en as snelbouler sorg hy dat die bal die praatwerk doen – maak nie saak of dit aan die begin of die einde van ’n beurt is nie,” het White gesê.

Intussen het Morris se Delhi Capital-span die Sunrisers Hyderabad in die uitkloprondtes van die IPL geklop. Nie Morris of Collin Ingram is vir dié kragmeting oorweeg nie.

  • AB de Villiers sal in dieselfde T20-reeks vir Middlesex speel.
  • Die Proteas se eerste wedstryd in die komende wêreldtoernooi is op 30 Mei teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.