Morris sluit hoofstuk af

Instagram-skermgreep.

Die duurste speler in die geskiedenis van die Indiese Premierliga (IPL) se speeldae is amptelik iets van die verlede.

Chris Morris het aangekondig dat hy op 34-jarige ouderdom sy krieketskoene gaan wegbêre, maar sy afrigtershoed gaan opsit.

Die speler, wat Suid-Afrika in vier toetse, 42 eendagwedstryde en 23 T20-kragmetings verteenwoordig het, het aangedui dat hy deel van die Titans se afrigterskorps sal word.

“Dankie vir almal wat deel van my krieketreis was. Dit was ’n lekker rit,” het hy op sosiale media gedeel.

Die veelsydige speler het reeds in Oktober 2021 aangedui dat sy internasionale loopbaan iets van die verlede is nadat hy sy laaste wedstryd vir die Proteas tydens die 2019-Wêreldbekertoernooi in Engeland gespeel het.

“My Suid-Afrikaanse speeldae is iets van die verlede. Ek is nie iemand wat daarvan hou om amptelike aankondigings te maak nie, maar hulle (Krieket Suid-Afrika) is bewus daarvan,” het Morris destyds in ’n onderhoud met Sportskeeda gesê.

Die lenige ster se vermoë om 140 km/h te boul en om grenshoue te slaan het van hom ’n baie gewilde T20-speler gemaak.

Die Rajasthan Royals het verlede jaar amper R32 miljoen betaal om sy dienste vir 2021 se Indiese Premierliga te bekom. Sodoende het die Suid-Afrikaner die duurste speler in IPL-geskiedenis geword.

Dinge het aanvanklik goed in Indië gelyk, maar toe die toernooi weer in die Verenigde Arabiese Emirate hervat is, het hy gesukkel om sy spelpeil van ouds te herwin.

Tog sorg sy loopbaanstatistieke (veral in T20-krieket) vir indrukwekkende leesstof: 1 868 lopies en 290 paaltjies in 234 wedstryde met ’n hoogste telling van 82* en ’n beste boulontleding van 4/9.

Wanneer alles volgens plan vir Chris Morris geloop het, was hy ’n baie gevaarlike krieketspeler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

casper ·

Te goed ‘n speler om in die nasionale krieket span te wees!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.