Morris ‘stomgeslaan’ oor IPL-status

Chris Morris. Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Die Suid-Afrikaanse veelsydige ster, Chris Morris, het vroeër vanjaar die rekordboeke herskryf toe die Rajasthan Royals amper R32 miljoen uitgehaal het om sy dienste vir die komende Indiese Premierliga (IPL) te bekom.

Die 33-jarige speler was nog net in vier toetse, 42 eendag- en 23 T20-kragmetings vir die Proteas in aksie, maar sy waarde word ongetwyfeld op die internasionale verhoog raakgesien.

“Ek was stomgeslaan. Ek het eerstens nie gedink dat ek vir soveel geld ‘gekoop’ sou word en tweedens dat soveel spanne in my sou belangstel nie,” het hy gesê.

Volgens Cricinfo was die Suid-Afrikaner al by agt IPL-toernooie in aksie en hy het al onder meer vir die Royal Challengers Bangalore en die Chennai Super Kings gespeel.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek in soveel toernooie sou speel nie. Maar nou is dit my verantwoordelikheid om goed te presteer. ’n Mens moet tot die span se sukses bydra en ook die spel geniet; ek weet dat goeie dinge gebeur wanneer jy pret op ’n krieketveld het.”

Wanneer hy op alle silinders vuur, is Morris ’n aanwins vir enige krieketspan.

In T20-wedstryde neem hy sy paaltjies teen ’n treftempo van 17,1 aflewerings per paaltjie en staan minder as agt lopies per boulbeurt af.

Hy is ook baie gevaarlik met die kolf: ’n Treftempo van 150,58 (enigiets hoër as 130 is uitstekend) is glad nie te versmaai nie.

Foto: Paul Ellis/AFP.

Die Rajasthan Royals-speler was een van die Proteas se meer bestendige spelers gedurende hul rampspoedige veldtog in die 2019-Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland. Die Suid-Afrikaners was destyds een van die eerste spanne wat die pad huiswaarts moes aandurf.

Dit was ook die laaste keer dat hy vir die Proteas gespeel het.

Met die volgende T20-Wêreldbeker om die draai kan Morris ’n sleutelrol vir die nasionale span speel. Tog wil hy eerder nie nou te veel aandag op ’n moontlike terugkeer vestig nie.

“Ek het nog nie eens so ver gedink nie. Tans fokus ek net op my vertonings vir die Rajasthan Royals en ek sal aandag aan die Wêreldbeker skenk wanneer ons daar kom. Maar vir eers gaan ek my beste hier vir die Royals lewer.”

Die Rajasthan Royals se eerste wedstryd is op 12 April teen die Punjab Kings.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.