Mpitsang maak T20-Wêreldbekerspan bekend

Temba Bavuma. Foto: Hansie Linde.

Victor Mpitsang het vandag om 13:00 die Protea-groep vir die komende T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate en Oman bekend gemaak.

Skaars ’n paar minute later is hy op ’n regstreekse TV-uitsending gevra waarom Faf du Plessis en Janneman Malan uit die groep van 18 spelers gelaat is.

Du Plessis is immers een van Suid-Afrika se mees ervare T20-krieketspelers, terwyl die 25-jarige Malan skitterspel in die eendagkrieketformaat van die spel lewer.

In tien wedstryde het hy reeds drie honderdtalle en twee vyftigtalle teen ’n gemiddeld van 92,14 geslaan. Hy het juis in die tweede eendagkragmeting teen Sri Lanka 121 van 135 aflewerings aangeteken om toe te sien dat die Proteas 283/6 in 47 boulbeurte opstapel.

Ja, dit is nie in T20-wedstryde nie, maar kan jy dit bekostig om ’n speler (én daarby ’n kolwer) uit te laat wat ongetwyfeld op dreef is?

Janneman Malan vier sy mees onlangse honderdtal. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

“Janneman se statistieke sorg vir wonderlike leesstof, maar as jy na die verskillende moontlike kombinasies kyk, het ons spelers gekies wat gereeld saam op die internasionale T20-verhoog speel,” het Mpitsang gesê.

Dieselfde rede geld ook vir Du Plessis se weglating.

Benewens Bavuma sal Quinton de Kock (’n swáár las rus nou op sy skouers), Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Aiden Markram, David Miller en Rassie van der Dussen dan die Proteas se bekerdrome met hul kolwe maak of breek.

Omdat die Indiese Premierliga eers vooraf in die einste stadions voltooi sal word, word daar verwag dat die kolfblaaie baie hulp aan draaiers sal verleen.

Tabraiz Shamsi, Keshav Maharaj en Bjorn Fortuin is die span se draaiers, terwyl George Linde saam met die span as ’n reserwe sal reis. Imran Tahir is nie oorweeg nie.

Maar die universele reël geld steeds: As die Proteas se draaiers op ’n blad baljaar, is die kans baie goed dat hulle kolwers gaan sukkel.

“Dit is nie ’n groep wat met groot name gelaai is nie; ons sterk punt is dat ons as span saamspeel,” het Bavuma gesê.

Soos Jo Black tereg vra: Hoop, wat is hoop?

Protea-groep vir T20-Wêreldbeker: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Aiden Markram, David Miller, Rassie van der Dussen, Wiaan Mulder, Dwaine Pretorius, Bjorn Fortuin, Keshav Maharaj, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Kagiso Rabada en Tabraiz Shamsi. Reserwes: George Linde, Andile Phehlukwayo en Lizaad Williams.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Martin ·

Mens kan maar jou eie afleidings maak hoekom die 2 manne nie gekies is nie. Die groep is ‘n politieke grap.

Oom Kaspaas ·

Hulle resultate gaan ook verteenwoordigend wees. Malan se gemiddeld is 92.14, terwyl Bavuma s’n 27 is …

piet ·

Belaglike vergelyking, Malan het nog net paar wedstrydjies gespeel. Vergelyk Bavuma met die spelers wat al baie wedstryde gespeel het.

koos10 ·

David Miller is nie op vorm nie, en Janneman sou ‘n beter keuse gewees het, en ook dan nie aan die span se demografie gekrap het nie.

koos10 ·

Geen voorspelling is hiervoor nodig nie, die geskiedenis van SA en wêrelbekers is bewys daarvan.

Snuffelgids ·

Geen vrees faktor nie, en ek dink ons stert begin al op nr 7 (dalk nog 6). Wel die positief is Dat mens glad nie diè jaar teleurgestel gaan word nie … mens weet wat om te verwag

Chris dupreez ·

Malan bly by die huis terwyl Makram saamgaan, maak nie sin nie

BRBR ·

Die kaptein is nie eers op meriete daar nie. Ten minste met hierdie wêreldbeker is daar geen verwagtings nie…

tweeling ·

Waar is George Linde. Fortuin word ingesit omrede hy sogenaamde spesialis draaier is. Die probleem is dat ons kolwers nie die mas opkom nie, daarom is ‘n ou soos Linde nodig wat beide take kan verrig. Verwag nie veel van ‘n sameroper wat net 2 wedstryde in sy loopbaan vir SA gespeel het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.