Mthethwa kondig tydelike KSA-raad aan

Argieffoto.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Vrydag die lede van Krieket Suid-Afrika (KSA) se tydelike raad bekend gemaak.

Die nege lede, wat deur oudregter Zak Yacoob gelei word, is die taak opgelê om die beleërde krieketorganisasie se beeld en reputasie op die plaaslike en internasionale verhoog te herstel.

Die ander lede van die raad sluit Omphile Ramela, Judith February, prof. André Odendaal, Caroline Manipuri, dr. Stravos Nicolaou, Xolani Vonya, Andile Mbatha en Haroon Lorgat in.

Onder die nege lede is Lorgat waarskynlik die bekendste in krieketkringe. Hy was tot onlangs die uitvoerende hoof van KSA, terwyl hy ook aan die stuur van die Internasionale Krieketraad was.

Haroon Lorgat. Argieffoto.

Daarbenewens het Ramela (president van die Suid-Afrikaanse Krieketspeler-vereniging – Saca) en Odendaal (voormalige uitvoerende hoof van die Cape Cobras) onder meer ervaring as spelers en administrateurs op die hoogste vlak.

KSA se bootjie dobber al geruime tyd in stormwaters en die organisasie se ganse raad het vroeër vandeesweek hul bedankings ingehandig.

“Nadat die beraadslaag het, is besluit dat die hele raad moet bedank. Dit sal in die beste belang van krieket in Suid-Afrika wees. Alle onafhanklike en nie-onafhanklike direkteure het nou bedank,” het KSA die afgelope Maandag op sy amptelike Twitter-rekening geskryf.

Volgens Mthethwa het hy die organisasie genoeg tyd gegun om sy sake op sy eie uit te sorteer omdat sportaangeleenthede deur die betrokke beheerliggaam hanteer moet word.

Minister Nathi Mthethwa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

“KSA se reputasie het egter steeds skade gely en ek het besef dat die organisasie nie in staat was om die situasie op sy eie te beredder nie,” het die minister gesê.

Die tydelike raad is deur sy departement, KSA se lederaad en Saca aangewys.

Die raad sal aan die lederaad oor ’n tydperk van drie maande verantwoording doen, maar hierdie periode kan verleng word. Die tydelike lede sal later vandag vir die eerste keer byeenkom.

Intussen word plaaslike krieket weer op 2 November hervat met die Engeland-witbalkrieketreekse wat op 27 November in die Kaap begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bittergal

Foeitog!! Wat maak hierdie kaders beter as die vorige kaders?

Mauritz

En so ploeter die kaders voort ……

Flip

Waar kniel greame smith nou deesdae want hy is baie stil?

Ratel

Politieke inmenging in sport het net een uitkoms. Ek twyfel nie dat spelers op meriete behoort gekies te word nie, wat ookal hulle ras. Maar kwotas wat blindelings afgedwing word is net so onregverdig teenoor die speler wat nie gekies word nie as die “kwota-speler”. Die Springbok rugbyspan het bewys dat ons hope talent het onder ons rasse, dat hulle die beste is, dat transformasie kan werk as dit aan bekwame sport administrateurs oorgelaat word en ek is ‘n trotse ondersteuner. Ek is nie seker wat Nathi Mthethwa se “claim to fame” is wat sport betref nie maar nou het… Lees meer »

Anel

Transformasie het ons sport in die afgrond bestuur. Sport het ons land oor die afgrond gedwing. So, ons het lankal op gehou sport kyk, nie eens die rugbywêreldbeker nie. Baie beter dinge om met my tyd te doen. (En ons was baie groot sportondersteuners, baie groot).