Mzansi-aksie raak nou warm!

Dale Steyn neem nóg ’n paaltjie vir Cape Town Blitz. Steyn het met sy aggressie en ekonomiese boulwerk beïndruk. Foto: Facebook.

Farhaan Behardien se Cape Town Blitz het hul plek in die eindstryd van die eerste Mzansi Superliga toernooi bespreek en sal na verwagting die wenner van ’n Jozi Stars/Nelson Mandela Bay Giants-uitklopwedstryd hierdie Sondag op Nuweland pak.

Maar voor jy jou harde hoed opsit en gereed maak om Quinton de Kock se grenshou-blitzkrieg teen Duanne Olivier en kie saam jou maats op die Kaapse stadion se graswal te geniet – dit is nog statisties moontlik vir enige span (buiten die Durban Heat) om vir die eindstryd te kwalifiseer.

AB de Villiers en sy Tshwane Spartans het twee wedstryde oor vóór Vrydag se uitklopkragmeting, terwyl Faf du Plessis se Paarl Rocks óók die 62 kilometer via die N1 na Nuweland kan aanpak.

So van De Villiers gepraat.

Suid-Afrika se internasionale krieketsuperster het ’n bra gemiddelde Mzansi-toernooi tot op hede. In agt wedstryde kon hy slegs 189 lopies teen gemiddeld van 23.62 slaan. Hoewel sy treftempo 157 lopies per 100 aflewerings is (die sewende beste in die reeks), word meer van hom verwag. En ’n verwagting kan soms ’n vreemde ding wees – teen dié tyd het De Villiers al só ’n aura opgebou, dat toeskouers teleurgesteld is as hy op die dag nie ’n honderdtal van 31 balle slaan nie.

Of dit nou juis dié verwagting is wat swaar op sy skouers rus, en of dit net plein swakker spelpeil is, is debatteerbaar. Maar om daardie geykte uitdrukking te gebruik: spelpeil is tydelik, klas is permanent; en De Villiers het twee kolfbeurte oor om sy kolftoorkuns uit te stal.

Wat wél vir Otis Gibson en die Protea ringkoppe sal laat glimlag, is die vuur waarmee Dale Steyn boul. Die 35-jarige sneltrein van Phalaborwa is met sy 11 paaltjies vyfde op die lys van top-paaltjievrate en dit lyk asof sy skouerbesering iets van die verlede is. Met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker in Engeland, is sy ervaring broodnodig om jong boulers soos Kagiso Rabada en Lungi Ngidi te lei.

Dan oorskadu Suid-Afrikaners ook die internasionale spelers in die reeks. Buiten die Spartans se Jeevan Mendis, is daar nie ’n enkele buitelandse speler onder die top 10 boulers nie, terwyl Ben Dunkett die 11de meeste lopies aangeteken het.

Hoewel daar al genoeg omstredenheid was – ’n paar persone is al weens beweerde weddery gearresteer – gee die reeks die sukkelende SABC hoop. In die openingsnaweek het meer as 3,4 miljoen kykers op SABC3 ingeskakel. Die uitsaaier het ’n kontrak met Sony onderteken, wat beteken die wedstryde word ook in Indië gebeeldsend.

Die top vyf lopiemakers in die toernooi:
1. Quinton de Kock: 407 lopies teen ’n gemiddeld van 67.83 en ’n treftempo van 174.67.

Reeza Hendricks is die tweede voorste lopiemaker in die Mzansi-reeks. Suid-Afrikaanse spelers oorskadu die internasionale sterre tot op hede. Foto: Facebook.

2. Reeza Hendricks: 359 lopies teen ’n gemiddeld van 71.82 en ’n treftempo van 155.41.
3. Rassie van der Dussen: 314 lopies teen ’n gemiddeld van 39.25 en ’n treftempo van 130.83.
4. Faf du Plessis: 312 lopies teen ’n gemiddeld van 62.40 en ’n treftempo van 163.35.
5. Janneman Malan: 305 lopies teen ’n gemiddeld van 33.88 en ’n treftempo van 125.51.

Die top vyf paaltjievrate in die toernooi:
1. Duanne Olivier: 16 paaltjies teen ’n gemiddeld van 12.62. Hy staan 7.71 lopies per beurt af.
2. Jeevan Mendis: 16 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15.06. Hy staan 7.98 lopies per beurt af.
3. Lutho Sipamla: 13 paaltjies teen ’n gemiddeld van 18.84. Hy staan 8.44 lopies per beurt af.
4. Kagiso Rabada: 11 paaltjies teen ’n gemiddeld van 17.63. Hy staan 7.05 lopies per beurt af.
5. Dale Steyn: 11 paaltjies teen ’n gemiddeld van 18.81. Hy staan 6.67 lopies per beurt af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.