’n Blink kriekettoekoms wag op jong Laura

Laura Wolvaardt. Foto: Saeed Khan/AFP.

Sy is skaars 21 jaar oud, maar Suid-Afrika se Laura Wolvaardt tel onder van die beste vrouekrieketspelers ter wêreld.

Sy het reeds 50 eendagwedstryde vir die Proteas gespeel waarin sy in 18 van haar beurte meer as 50 lopies geslaan het – die meeste ooit deur ’n 21-jarige vrouespeler in internasionale krieket.

Voeg daarby ’n rits toekennings by Krieket Suid-Afrika se jaarlikse prysuitdelingfunksie – waaronder die vrouekrieketspeler van die jaar – en jy sit met ’n blink diamant vir die toekoms.

Ja, haar treftempo in eendagkrieket is net ’n rapsie meer as 60, maar in die Big Bash League in Australië het sy reeds 347 lopies teen ’n treftempo van 104,83 vir die Adelaide Strikers aangeteken.

The Cricket Monthly, ’n digitale tydskrif, het haar juis onlangs saam met ander spelers soos Australië se Sophie Molineux en Indië se Shafali Verma uitgesonder as jong sterre wie se vordering krieketliefhebbers in die volgende dekade beslis kan dophou.

En boonop is haar nasionale kaptein, Dane van Niekerk, beïndruk met haar vertonings.

“Sy is vinnig op pad om een van die beste spelers te word wat ons ooit sal sien,” het Van Niekerk gesê.

“Haar spel het aansienlik oor die afgelope paar maande verbeter en sy is skaars 21 jaar oud! Ek hoop dat ek nog speel wanneer sy ’n Suid-Afrikaanse legende of selfs ’n wêreldster word. Sy het ongelooflike potensiaal – nie net as speler nie, maar ook as leier van ’n span.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.