’n Geval van ‘Faf du Ples-ses’

Faf du Plessis. Foto: Twitter.

Dit het gisteraand grenshoue in Sharjah gereën soos wat die Rajasthan Royals en die Chennai Super Kings hul ondersteuners op ’n fees van sesse getrakteer het.

Die twee spanne het gesamentlik vir 33 sesse gesorg; ’n ekstra grenshou sou ’n nuwe IPL-rekord beteken het.

Die Royals het 216/7 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken, grotendeels te danke aan Sanju Samsun (74 lopies en nege sesse) en Steve Smith (69 lopies en vier sesse) se beurte.

Maar waar hulle die grondslag vir die Royals se tellinghuis gelê het, het Jofra Archer (27 van agt balle) vir die afwerkings gesorg. Veral Lungi Ngidi (1/56) het deurgeloop en die Engelsman het vier agtereenvolgende sesse van sy boulwerk geslaan.

Twee foutballe het tot die Suid-Afrikaner se nagmerrie-boulbeurt bygedra – ná net twee wettige aflewerings in sy laaste boulbeurt het Archer reeds 27 lopies getimmer.

Die Super Kings moes 217 lopies vir ’n oorwinning jaag en hulle het blink te danke aan Shane Watson (33 van 21 balle) begin.

Maar toe hy deur Rahul Tewatia skoongeboul is, is die Super Kings se trein effens ontspoor.

Faf du Plessis is aanvanklik deur die kommentators vir sy konserwatiewe benadering gekritiseer, maar hy het laat in die beurt uiteindelik vlam gevat om 72 lopies van slegs 37 aflewerings te slaan.

Hy het sewe reuse-sesse geslaan, terwyl MS Dhoni ook drie sesse van Tom Curran se laaste beurt gemoker het.

Die Super Kings het egter hopeloos te laat met hul aanslag begin en hulle het die wedstryd met 16 lopies verloor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Mooi so Faffie

Johan

Ngidi moet nou ophou sy kniee buig en regop staan as hy boul. Jou tyd is sommer vinnig verby want jy hou jou mos met nonsens op. Wie is Faf du Plessis het al van hom vergeet en my brein boikot hom.

Helen

Lyk my die knie buigers kry swaar. Laat dit vir hulle n les wees. Hoop hulle misluk geheel en al. Sal liewers die Sake Sharks ondersteun