’n Nat Wanderers wag op Philander in laaste toets

Vernon Philander. Foto: Reuters/Siphiwe Sibeko

’n Sopnat Wanderers-krieketstadion in Johannesburg het Vernon Philander en Kie. vandag begroet.

Die 34-jarige Philander speel vandag in sy laaste toets vir die Proteas ná ’n roemryke loopbaan. In 63 toetse het hy 222 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 22,29 geneem. Op die Wanderers het hy 39 paaltjies in slegs sewe toetse laat spat.

Maar vandag sal hy vir oulaas alles in die stryd moet werp om die Proteas te help. Die Suid-Afrikaners is met die rug teen die muur. Nadat die Boucher-era blink met ’n sege op SuperSportpark teen die Engelse toerspan begin het, het hulle slég op Nuweland en St. George-park verloor.

Hulle kan óf met die Wanderers-toets die reeks beredder, óf hulle kan hul tweede agtereenvolgende tuisreeksnederlaag in Suid-Afrika ly. Dit sal die eerste keer sedert 1950 wees dat só iets gebeur.

Die span was veral ruggraatloos in Port Elizabeth; Keshav Maharaj en Dane Paterson (twee stertkantkolwers) was byvoorbeeld vir die hoogste vennootskap in die Suid Afrikaanse tweede beurt verantwoordelik.

“Dinge gaan nie oornag verbeter nie. Dit sal ’n hele paar jaar vat om Suid-Afrikaanse krieket reg te ruk,” het Kevin Pietersen vandag op SuperSport gesê.

Hy het bygevoeg dat dit van kardinale belang is dat Boucher en Graeme Smith toegelaat word om met genoeg vryheid op te tree.

Maar terug na Philander. “Hy is ’n ongelooflike ou wat baie waarde tot ons boulaanval gevoeg het. Sy vaardighede teen linkshandige kolwers was van onskatbare waarde en sy bestendigheid het gereeld gesorg dat ouens soos Dale Steyn en Morné Morkel meer aggressief kon boul.

“Ons het altyd geweet wat om van Vern te verwag en hy het selde teleurgestel,” het Graeme Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.