’n Wêreldbeker van toetskrieket begin Donderdag

Faf du Plessis. Foto: Twitter/OfficialCSA

Protea-kaptein Faf du Plessis kan nie wag vir die Internasionale Krieketraad (IKR) se Wêreldtoetskampioenskap om te begin nie.

Die eerste aflewering in dié nuwe formaat word Donderdag in Engeland afgestuur wanneer die Engelsmanne vir Australië op Edgbaston aanvat. Suid-Afrika se veldtog om as die IKR se toetskrieketkampioenspan bekend te staan, begin later vanjaar teen Indië; die wêreld se voorste toetsland.

“Die kampioenskap is iets nuuts en opwindends. Ons was al lankal lus om vir iets te speel wat die waarde van toetskrieket onderstreep,” het Du Plessis gesê.

Die Proteas was in ’n paar kookwater-toetstweestryde oor die afgelope paar jaar gewikkel en die temperatuur in die drukkoker kan voortaan nét so hoog wees: Die Wêreldtoetskampioen sal uiteindelik ná ’n eindstryd op Lord’s aangewys word.

“Dit is vars en die spelers sien baie uit na die volgende hoofstuk in toetskrieket se aksiebelaaide boek.”

“Ons begin met ’n tawwe veldtog teen Indië weg van die huis wanneer ons in die Vryheidsreeks teen hulle speel. Ons het hulle wel verlede jaar in ons agterplaas geklop, maar om vir Indië op hul tuisveld te klop, is een van die moeilikste uitdagings in wêreldkrieket.”

“Volgende op die lys is Engeland hier in Suid-Afrika. Dit sorg altyd vir ’n bobaas-reeks en ons sien baie uit na dié een. Ons het waarskynlik die moeilikste begin van almal in die kampioenskap, maar op die ou einde gaan elke span buitendien teen mekaar moet speel; dus maak dit nie werklik saak nie.”

Die Toetskampioenskap sal basies die Wêreldbeker van toetskrieket wees en die voorste nege toetsspelende lande sal teen mekaar speel.

Oor die volgende twee jaar sal die beste spanne alles in die stryd werp om vir die eindstryd in Junie 2021 te kwalifiseer.

Elke span sal teen ses van die ander agt spanne oor die periode van twee jaar speel. Elke oorwinning, nederlaag en onbeslisde uitslag sal op die punteleer tel.

“Toetskrieket bly die beste formaat van die spel en dit is die maatstaf waaraan spelers hulself wil meet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ProotGraat ·

En te midde van die laaaaaang choke ‘n welkome T20 mini-choke volgende jaar ….

George in Bloem ·

Hahahahaha! Goeie een. Ons manne bied nou aan ondersteuners die volle choke reeks!!

Afrikaan ·

En solank Faf kaptein is sal die Chokers meer gereeld so maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.