’n Wipplank-krieketdag op SuperSportpark

Foto: GB Jordaan

Mark Boucher se eerste dag as die hoofafrigter van die Protea-krieketspan het op die slegste moontlike manier begin: Dean Elgar – normaalweg die bestendigheid van self – is met die eerste aflewering van die dag uitgehaal toe hy ’n wye aflewering van James Anderson gejaag het.

Een paaljtie plat sonder ’n enkele lopie op die telbord was dalk meer gepas by die Thabang Moroe-era as by die Boucher-regrukoperasie.

Maar dinge het egter nie baie meer rooskleurig vir die Proteas geword nie – 36 boulbeurte ná Elgar se paaltjie, het die tuisspan op 111/5 gesteier. Aiden Markram (20), Zubayr Hamza (39), Rassie van der Dussen (6) en Faf du Plessis (29) was almal terug in die kleedkamer.

Snaaks genoeg was dit nie Anderson, Stuart Broad of die blitsige Jofra Archer wat die gevaarmanne was nie; dit was die medium-vinnige aflewerings van Sam Curran wat die meeste verwoesting gesaai het.

Hy het in dié tydperk van Du Plessis en Van der Dussen ontslae geraak.

In die verlede kon die Proteas gereeld die kastaiings uit die vuur gekrap het. ’n Vuurvreter soos Fanie de Villiers het byvoorbeeld in sy speeldae gesê dat Suid-Afrikaners nooit opgee nie. Hy behoort te weet waarvan hy praat – danksy sy bobaas-boulwerk kon die Proteas 117 lopies teen Australië in Sydney verdedig het.

Foto: GB Jordaan

En vandag het Quinton de Kock en Dwaine Pretorius – wat saam met Van der Dussen sy toetsdebuut gemaak het – gewys dat die Proteas nog oor genoeg veggees beskik.

Die duo het ’n vennootskap van 87 lopies om die sesde paaltjie geniet voordat Pretorius vir 33 deur Joe Root in die glippe van Curran se boulwerk uitgevang is.

De Kock is uiteindelik vir 95 lopies uitgehaal en die tuisspan het die dag op 277/9 afgesluit; nie sleg vir ’n span wat hul toporde vir minder as 120 lopies verloor het nie.

Curran (4/57) het die dag as die beste bouler afgesluit. Archer, wat só skitterend in die Wêreldbeker-kriekettoernooi en die daaropvolgende Reeks om die As vir die Engelse vertoon het, was glad nie ’n bedreiging nie.

Wanneer Vernon Philander jou kliphard na die puntgrens kan kap, kan jy maar weet dat Archer nie oor dieselfde oemf beskik as toe hy vir Steve Smith op Lord’s raakgeboul het nie.

Dan het Ben Stokes ook die veld weens hitte-uitputting verlaat, nadat ’n hele paar van Engeland se spelers voor die toets deur ’n virus platgetrek is.

Die Engelse het eintlik goed gedoen om nege Protea-paaltjies te neem, terwyl die Proteas gewys het dat hulle nie heeltemal kanonvoer is nie.

Daar wag ’n interessante tweede dag op krieketliefhebbers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.