Namibië tans bo Indië op punteleer

Ruben Trumpelmann vier Richie Berrington se paaltjie. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Namibië se droomlopie in die T20-Wêreldbeker duur voort nadat hulle gisteraand vir Skotland met vier paaltjies in Abu Dhabi geklop het.

Dit beteken dat Albie Morkel se span nou drie agtereenvolgende wedstryde gewen het, terwyl hul jongste oorwinning ook beteken dat hulle bo Indië op die punteleer is.

Uitstekende boulwerk deur Ruben Trumpelmann (3/17) het die Skotte vroeg op die agtervoet geplaas en hulle is tot 109/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk.

Die 23-jarige oudleerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool het drie paaltjies binne vier aflewerings geneem en hy het veral met sy vaart en swaai beïndruk.

“Ek was aanvanklik ’n bietjie op my senuwees, maar toe dink ek dat ek net die wedstryd moet geniet; dit is immers ’n Wêreldbekertoernooi. Ek hou daarvan om die bal vroeg in ’n beurt te probeer swaai en gelukkig het dinge goed uitgewerk,” het Trumpelmann gesê toe hy sy speler-van-die-wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Hoewel daar ’n paar benoude oomblikke met die kolf was, het JJ Smit (32) die kragmeting met ’n ses beklink.

“Ons is baie bly om nóg ’n Wêreldbekerwedstryd te wen; hopelik kan ons nou op hierdie momentum in ons volgende wedstryde voortbou,” het Gerhard Erasmus (kaptein) gesê.

Hy het ook Trumpelmann se lof besing.

“Ruben is iemand wat baie van homself verwag en hy het vroeër in die toernooi ’n bietjie gesukkel. Hy was egter vandag uitstekend en hy het gesorg dat ons die eerste hou inkry.”

Die Namibiërs speel Sondag teen Afghanistan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Geen fieterjasies of politiek nie. Net commitment en effort.

Andrew ·

En daar gee De Kock ook lyk my nou in. Hy gaan nog spyt wees. Al wat gesoek word is n bat om die kolonialiste te slaan. Pateties as jy dink hoe min ons eintlik is dat sulke rasse kwotas toegepas moet word om ander rasse, wat nogal vir n kwart eeu self in privilage lewe, verteenwoordigend te hê. En dan moet die klein klomp nog voor hulle nuwe maasters kniel. Ek sou gaan big bash speel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.