Namibiërs kwalifiseer vir T20-Wêreldbeker

Namibië se krieketspan het vir volgende jaar se T20-Wêreldbeker gekwalifiseer. (Foto: X/IKR)

Toe Namibië Dinsdag vir Tanzanië met 58 lopies in Windhoek geklop het, het die span sy vliegtuigkaartjie na die T20-Wêreldbeker bespreek.

Die internasionale mik-en-mokerskouspel word volgende jaar in die VSA en die Wes-Indiese Eilande aangebied.

“Ons is baie trots op die spelers en die afrigterspan,” het Rudie van Vuuren, president van die Namibiese krieketbeheerliggaam, in ’n onderhoud met die BBC gesê.

Namibië het reeds vyf wedstryde op ʼn streep by die Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi in sy hoofstad gewen.

Benewens die oorwinning teen Tanzanië, het die span ook met Zimbabwe, Uganda, Rwanda en Kenia afgereken.

“Die manne het deurgaans topgehalte spel gelewer en ʼn mens kan sien dat ons professionele opset ʼn verskil maak.”

Dit is die derde keer dat Namibië vir die T20-Wêreldbeker kwalifiseer.

Die span se beste vertoning was in 2021 toe hy na die Super 12-fase van die toernooi deurgedring het nadat daar met Ierland en Nederland klaargespeel is.

“Ons is ’n klein land, net ’n paar mense speel krieket en ons kan trots wees op onsself. Hopelik kan ons gereeld met sulke vertonings vorendag kom,” het kaptein Gerhard Erasmus ná die Ierland-sege gesê.

Namibië se uitslae by die kwalifiseringstoernooi in Windhoek:

Klop Zimbabwe met sewe paaltjies

Klop Uganda met ses paaltjies

Klop Rwanda met 68 lopies

Klop Kenia met ses paaltjies

Klop Tanzanië met 58 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.