Nasionale spelers ontevrede met KSA

Ter illustrasie. Foto: Twitter.

Krieket Suid-Afrika (KSA) se bootjie bly in stormagtige waters ronddobber, maar dit lyk asof die persone aan die stuur van sake dit verkies om ’n koers al verder weg van ’n veilige hawe in te slaan.

Die beleërde organisasie het vroeër die week aangedui dat sy jaarvergadering onbepaald uitgestel is, terwyl daar ook berig is dat daar voortaan slegs swart konsultante aangestel sal word in ’n verwronge poging om transformasie te bespoedig.

Dit beteken dat een van die voorste krieketspelers ter wêreld en ongetwyfeld die beste wat Afrika nog opgelewer het, Jacques Kallis, moontlik sy pos as die Proteas se kolfkonsultant kan verloor. Mits daar natuurlik ’n swart afrigter is wat beter gekwalifiseer is.

In 2002 het die gewese minister van sport, Ngconde Balfour, juis gesê dat Kallis nie veel vir hom beteken nie. Hoewel die minister later in ’n faksboodskap aan Shaun Pollock gesê het dat sy woorde verkeerd vertolk is, is die moontlikheid daar dat dit nou op ’n onheilspellende koers is om ’n werklikheid te word.

Nou het 30 van Suid-Afrika se voorste mans- en vrouespelers ’n verklaring uitgereik om hul misnoeë te kenne te gee met die huidige stand van krieket in die land.

Die verklaring is onder andere deur Quinton de Kock en Dané van Niekerk – nasionale kapteins – sowel as spelers soos Lungi Ngidi, Kagiso Rabada en Temba Bavuma onderteken.

“As Proteas is ons bekommerd oor die toekoms van die spel in die land; in die afgelope jaar het Krieket Suid-Afrika van die een krisis na die ander beweeg,” lui die verklaring.

“Dit gebeur alles in ’n tydperk waarin ons ernstige gesprekke oor transformasie het, sowel as in ’n omgewing waar die finansiële lewensvatbaarheid van die spel bedreig word.”

Volgens die spelers verstaan hulle dat hulle hul persoonlike verskille ter syde moet stel om doeltreffend saam as ’n span te werk. Hulle verwag dieselfde van die sport se administrateurs.

“Daar moet besluite geneem word wat in die beste belang van krieket is, anders kan die spel wat ons liefhet, onherstelbaar beskadig word in hierdie land.”

Hulle het bygevoeg dat die komende jaarvergadering KSA se laaste kans kan wees om die situasie te beredder.

Spelers wat die verklaring onderteken het, is Aiden Markram, Andile Phehlukwayo, Anrich Nortje, Ayabonga Khaka, Beuran Hendricks, Chloe Tryon, Dané van Niekerk, David Miller, Dean Elgar, Dwaine Pretorius, Faf du Plessis, Kagiso Rabada, Keshav Maharaj, Laura Wolvaardt, Lizelle Lee, Lungi Ngidi, Marizanne Kapp, Masabatha Klaas, Mignon du Preez, Nadine de Klerk, Quinton de Kock, Rassie van der Dussen, Reeza Hendricks, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Sune Luus, Tabraiz Shamzi, Temba Bavuma, Trisha Chetty en Tumi Sekhukhune.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
AJ

KROEKET SA word nou GESTROOP van ál sy bates!!!

Want die ‘people’s is ‘hangry’ (hungry + angry).

Lê ‘n klagte by die IOK en die VN vir politieke inmenging in sport en diskriminasie teen Witmense. Hopelik word KROEKET SA dan geskors uit alle internasionale krieket organisasies (en deelname).

Die Wit spelers het geen ander keuse nie, as om hulle eie PRIVAAT PROFESSIONELE Krieket Raad te stig wat onder die vaandel van die SPRINGBOK kompeteer.

Niklaas

Ek is nie vreeslik hartseer en gebroke om te lees van hierdie verknorsings en ongemaklikhede nie. Na die BLM snert en knielaksies met gebalde vuis voel ek vere vir hierdie spulletjie. Sink sommer lekker gou-gou.

Andrew

So deurmekaar soos n ertjie sop. Ngidi en Fav, julle maak KSA se mense deurmenkaar. Dan buig julle die knieg voor die blm idiologie, nou dat KSA dit toepas nou is julle van n ander opinie (wat julle standpunt is ,is nog nie duidelik is nie). Moet daar nou meer of minder swart mense verteenwoordig word of nie? By definisie is die span rasisties want daar is voorafgestelde kwotas gebaseer op ras, met wit die laaste in die rangorde. Dan wie bepaal wie is n beter kolf afrigter tussen Kallis en kom ons se Prinse ? Hulle se mos n… Lees meer »

Anton

Politieke agendas sal, ook wat krieket betref, eers rus as hulle die sport soos die meeste ander instansies in die grond in “bestuur” en “getransformeer” het. Dan kan hulle aanbeweeg na die volgende teiken.