Nederlaag g’n wekroep, sê Stokes

Engeland se kaptein, Ben Stokes. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Ondanks die feit dat die Proteas die eerste toets op Lord’s binne drie dae met ’n beurt en 12 lopies gewen het, meen Ben Stokes dat dit hoegenaamd nie die einde van die wêreld vir Engeland se krieketspan is nie.

Dit was Engeland se eerste nederlaag sedert Stokes en Brendon McCullum die kaptein- en afrigterleisels van die toetskrieketspan vasgevat het.

“Ons kan nie elke keer goeie krieket speel nie en hierdie was een van ons swakker weke. Ons gaan egter nie te lank hieroor tob nie; ons wil nie enige negatiewe gedagtes saam met ons na die tweede toets in Manchester neem nie,” het Stokes gesê.

Onder die Stokes‑McCullum-bedeling het die Engelsmanne bekendheid vir hul onverskrokke benadering tot die spel verwerf.

Maar op Lord’s was daar nie veel teken van die berugte “Bazball”- krieket waarmee hulle Nieu-Seeland en Indië oordonder nie.

Die Protea-boulaanval het die tuisspan vir 165 en 149 uitgeboul, terwyl Marco Jansen en Keshav Maharaj met baie meer aggressie as enige Engelse kolwer gespeel het.

“Ons het ’n sekere manier waarop ons wil speel. As alles vir ons uitwerk, is ons ’n baie moeilike span om te klop. Hierdie nederlaag is glad nie ’n wekroep vir ons nie; Suid-Afrika het nou net beter as ons gespeel.”

Hy was egter vol lof vir die wyse waarop Kagiso Rabada en Anrich Nortjé sy kolwers laat bontstaan het.

Rabada het sewe paaltjies in die wedstryd geneem, terwyl Nortjé vinniger as 150 km/h geboul het.

“Ons was gereeld onder druk danksy Nortjé en Rabada se boulwerk. Wanneer ’n mens internasionale sport speel, gaan daar dae wees waar jou teenstanders beter is as jy. En as ’n span is ons oukei daarmee.”

Die tweede toets begin volgende Donderdag in Manchester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.