Nee wat, Proteas, hier kom nóg slae

Virat Kohli – 160 nun. (Foto: Facebook)

ʼn Reeksneerlaag van 6-0 wink vir die Proteas in die eendagreeks teen die Indiese toerspan.

Hoe Suid-Afrika sake gaan omkeer nadat hulle Woensdag op Nuweland weer verneder is, weet nugter. Indië is nou 3-0 in die reeks voor en al drie was maklike, oortuigende oorwinnings.

Die besoekers het met 179 lopies gewen.

Virat Kohli, met die geluk van ʼn beslissing wat ná hersiening omgekeer is, het met sy skitterende 160 nun die Proteas se boulaanval aan flarde geslaan en toe het sy span se draaiboulers weer hulle ding gedoen.

Indië het 303/6 aangeteken nadat hulle ingestuur is om te kolf, en die Suid-Afrikaanse kolwers kon net 179 in 40 beurte bymekaar skraap. Dit is die tweede opeenvolgende keer dat die tuisspan nie hulle 50 beurte enduit kon kolf nie. Hulle is in presies 40 boulbeurte uitgehaal – darem beter as Sondag se 32.2 in Centurion.

Daar was opgewondenheid in die Proteas se geledere toe die Indiese aanvangskolwer Rohit Sharma vir nul deur KG Rabada uitgehaal is, maar ʼn honderd balle later was die tweedepaaltjie-vennootskap tussen Kohli en Shikhar Dhawan 100 lopies werd.

Kohli se onoorwonne 160 is in 159 balle met 12 viere en twee sesse aangeteken.

Indië het uit die staanspoor teen meer as vyf lopies per boulbeurt gekolf, hoofsaaklik omdat Lungi Ngidi die kluts kwyt was en amper agt lopies per boulbeurt afgestaan het wat die Indiërs op dreef gekry het.

Dit was hoe later hoe kwater.

Dit was JP Duminy, wat met sy vyftigtal (51 lopies) en twee paaltjies moontlik die voorste speler van die tuisspan was, wat met sy sewende bal toegeslaan het om van Dhawan (76, 63 balle, 12 viere) ontslae te raak.

Toe het die Indiërs op 140 na 23.1 beurte gestaan.

Saam met die kaptein Aiden Markram (32) het hy 78 om die tweede paaltjie daargestel.

Daarna was dit net David Miller (25 stadige lopies vir die groot slaner in 42 balle) wat darem soos ʼn kolwer gelyk het.

Die Indiese draaiboulers Yusvendra Chahal (4/46) en Kuldeep Yadav (4/23) het eenvoudig met hulle verwoesting van die tweede eendaagse wedstryd voortgegaan.

Vir die volledige telkaart en ander inligting, klik op die skakel.