Net buitengewone kolfwerk of reën kan Proteas red

Faf du Plessis moet saam met Quinton de Kock die toets probeer red. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Dit was nie ʼn krieketdag om op trots te wees nie en die Proteas gaan Woensdag die laaste dag van die derde kriekettoets teen Nieu-Seeland binne met net buitengewone kolfwerk en/of onwaarskynlike reën wat Nieu-Seeland van ʼn oorwinning kan weerhou.

Teen uitskeityd op dag vier het Suid-Afrika 80/5 op die telbord gehad – steeds 95 lopies agter die tuisspan se eerstebeurttelling van 489 en met net vyf paaltjies staande.

Faf du Plessis (15 in 51 balle) en Quinton de Kock (15 in 39 balle) sal Woensdag voortkolf. Dit gaan om tyd voor die paaltjies deurbring net soveel as wat lopies nodig is om die toets te red en daarmee die reeks te wen.

Daar is seker heelwat permutasies, maar in werklikheid is die volgende seker na aan die vyfde dag se doelwit: Om die agterstand verby te steek, sal net sowat 35 beurte van die laaste dag se totaal van 90 beurte neem, mits die Proteas so lank kan vasbyt. En dan moet hulle nog ʼn verdere sowat 110 lopies aanteken en hoogstens 15 boulbeurte vir die tuisspan laat om te wen.

♦  Op ʼn morsdooie kolfblad waar Suid-Afrika se boulers die hele dag hard gewerk het om die oorblywende ses paaltjies te neem, het die Swart Pette hul oornagtelling van 321/4 tot 489 almal uit opgeskuif, ʼn voorsprong van 175 lopies.

Suid-Afrika se boulers en veldwerkers het ʼn volle 162.1 boulbeurte geneem om die tuisspan uit te haal – die Proteas se langste skof in die veld die afgelope sewe jaar.

Kane Williamson is uiteindelik na ʼn uitstekende beurt vir 176 uitgehaal nadat hy en Mitch Santner 88 lopies om die vyfde paaltjie daargestel het.

Santner, met wie die Nieu-Seelandse keurders gedobbel het om hulle nommer vier-kolfposisie te vul, het geduldig aan sy 44 in meer as 25 beurte gekolf.

Toe hy op 397/6 uit is, was daar nog die paaltjiewagter BJ Watling (24) en Colin de Grandhomme (57) met sy eerste toets-vyftigtal wat gefrustreer verder aan die totaal gebou het.

♦  Vernon Philander het weer uitstekend geboul sonder om ʼn paaltjie te neem. Hy het wel vir Santner  beenvoor betrap maar die hersiening van die nie-uit beslissing is nie aangevra nie; en hy het Santner ook vroeg-vroeg in sy beurt skoongeboul maar het oorgetrap.

Philander het tot dusver net twee paaltjies in die drie toetse geneem. Maar wie weet, hopelik kry hy Woensdag nog ʼn kans om hierop te verbeter!

Hoe die boulers, wat deurgaans met dissipline geboul het, deurgeloop het, word weerspieël deur die syfers van Morné Morkel (4/100), Kagiso Rabada (4/122), Keshav Maharaj (2/118) en Philander (0/79).

Die boulers se ses paaltjies vir 167 op die vierde dag is seker nie te versmaai nie, veral op die kolfblad waar daar nie veel beweging was nie.

Maar toe kom Nieu-Seeland, met hulle plaasvervanger-boulers vir die aanvangspaar Tim Southey en Trent Boult wat albei beseer is, en laat die Proteas op 49/3 reeds in groot moeilikheid.

♦  Die Proteas se verwardheid oor die laaste twee dae is miskien met die uithardloop van debutant Theunis de Bruyn beklemtoon.

Na sy nulletjie in die eerste beurt het hy stewig gelyk, drie viere vir sy 12 lopies geslaan en is toe uit toe hy en Hashim Amla mekaar uit die aarde geloop het toe ʼn steellopie (onnodiglik) gewaag is.

Amla het om die lopie geroep, en miskien was daar wel ʼn lopie, maar De Bruyn het eers geweifel en toe net ʼn paar meter buite sy kolfkampie in  die trompop botsing geval.

Dean Elgar is na sy honderdtal en 89 in die eerste toets weer goedkoop (5) verwyder wat hom in sy laaste vier beurte, met ʼn hoogste telling van 17, ʼn totaal van net 36 lopies gee; Amla (19) is met ʼn moeë houtjie in die glippe gevang; JP Duminy het nie na die bal gespeel wat ingesny het nie; en Temba Bavuma het nie sy voet by die bal gekry nie en is agter deur Watling uitgevang.

Toe het Du Plessis en De Kock 12 beurte uitgehou tot die Nieu-Seelanders baie tevrede van die veld gestap het.

Klik hier vir die volledige telkaart en statistiek: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020045.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Alida Vorster!

Vrou-alleen is ‘n skitterende krieketverslag gelewer! Veels geluk daarmee.

Hou nie self die wedstryd dop nie, maar weet nou presiés wat aangaan. En ja, dinge klink beroerd, maar Faf is ‘Super Man’!

sa_Kiwi ·

Gaan n goeie dag5 wees hier, ek moet net se, alhoewel ek n groot rabada fan was toe hy begin het, het hy nou so n groot houding gekry dat ek hom nie meer kan verdra nie, ek kry so lekker as ons hom oor die boundry sit. En julle Proteas sit met so effense opening probleem, nie de bruyn, cook of elgar(wat 1/10 kere perform) is opgewasse vir dit nie. Sien uit na n goeie dag 5

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.