Ngidi die vinnigste tot 50 paaltjies

Lungi Ngidi. Foto: Twitter.

Lungi Ngidi het die vinnigste 50 eendagpaaltjies vir die Proteas geneem toe Janneman Malan vanmiddag vir Marnus Labuschagne van sy boulwerk uitgevang het.

Dit het die Titans-snelbouler net 26 wedstryde geneem om dié mylpaal te bereik, een wedstryd minder as Lonwabo Tsotsobe se vorige rekord van 27 wedstryde.

Australië het vandag stewig begin danksy Aaron Finch en David Warner, maar Ngidi het eers van Warner (35) en toe van Smith (13) en Labuschagne (0) van daaropvolgende balle ontslae geraak om te sorg dat die besoekers op 81/3 gesteier het.

Intussen het die Proteas se hoofafrigter, Mark Boucher, ’n ultimatum aan AB de Villiers gerig rakende die sterkolwer se moontlike deelname aan die T20-wêreldbeker later vanjaar in Australië.

Die veglustige Boucher verwag ’n antwoord van De Villiers en Chris Morris ná vanjaar se Indiese Premierliga.

“Ons het besluit dat die ouens in die IPL speel en hulle daarna beskikbaar stel. Vanaf 1 Junie, wanneer ons in Sri Lanka is, moet hulle beskikbaar wees. Of ons hulle gaan kies, is egter ’n ander storie. Hulle moet dit egter doen indien hulle in die T20-wêreldbeker wil speel,” het Boucher gesê.

Boulers wat die vinnigste 50 paaltjies vir Suid-Afrika in eendagkrieket geneem het:

  1. Lungi Ngidi: 26 wedstryde teen ’n gemiddeld van 22,16.
  2. Lonwabo Tsotsobe: 27 wedstryde teen ’n gemiddeld van 19,78.
  3. Imran Tahir: 28 wedstryde teen ’n gemiddeld van 20,50.
  4. Kagiso Rabada: 31 wedstryde teen ’n gemiddeld van 26,21.
  5. Craig Matthews: 32 wedstryde teen ’n gemiddeld van 22,98.
  6. Morne Morkel: 33 wedstryde teen ’n gemiddeld van 25,63
  7. Shaun Pollock: 34 wedstryde teen ’n gemiddeld van 24,66.
  8. Roger Telemachus: 35 wedstryde teen ’n gemiddeld van 27,78.
  9. Lance Klusener: 36 wedstryde teen ’n gemiddeld van 28,61.
  10. Wayne Parnell: 36 wedstryde teen ’n gemiddeld van 29,37.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Geluk julle, Janneman het vir ons die knoop deurgehak, waar kom hul aan daai skeidsregter!!!

koos10 ·

Scalla, die veldwerk was teleurstellend, maar die hele span het die knoop deur gehak. Ngidi en Janneman het wel die beste gevaar maar elke speler is deel van die span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.