Ngidi se droomdag bring Proteas nader aan reekssege

Lungi Ngidi – ‘n dag om te onthou (Foto Twitter @OfficialCSA)

Vir ʼn nuweling-snelbouler kan daar niks lekkerder wees as om met jou eerste bal van ʼn kolfbeurt ʼn paaltjie te neem en dan kort daarna een van die wêreld se kolflegendes te laat terugstap nie.

Maar dit was die vreugde wat die Proteas se nuwe blitsbouler Lungi Ngidi Dinsdagmiddag in die laaste skof van die vierde dag se spel ervaar het om sy span nader aan ʼn reeksoorwinning oor Indië te bring.

Indië is die voorste span op die wêreldranglys en die Proteas tweede.

♦  Teen uitskeityd op die voorlaaste dag op SuperSportpark het Indië in sy soeke na 287 lopies om te wen, reeds op 35/3 gewankel.

Suid-Afrika is vir 258 uitgehaal, met AB de Villiers (80) en Dean Elgar (61) wat 141 lopies om die derde paaltjie aangeteken het en Faf du Plessis wat ʼn waaksame, stadige beurt in egte toetstradisie gespeel het voordat hy die voorlaaste kolwer was wat op 48 moes terugstap nadat hy te vroeg na die bal gespeel het. Hy het 222 minute lank gekolf en vier viere in 141 balle geslaan.

Die Proteas se telling lyk op die oog af teleurstellend, maar die stadige kolfblad wat boonop die bal op ongelyke hoogtes van die blad af laat deurkom het, het die kolwers deeglik aan bande gelê – sóveel so dat Virat Kohli só gelukkig met die stadige lopietempo en die gereelde val van paaltjies was dat hy nie die nuwe bal na 80 beurte aangevra het nie.

Interessant was ook dat Indië se draaibal-breker Ravichandran Ashwin, geen sukses gehad het totdat hy Ngidi, die laaste kolwer, uitgehaal het nie en dat die vinniger manne met die ongelyke deurkom van die bal die paaltjies geneem het.

Dit het ook so geblyk te wees toe Indië kom kolf het. KG Rabada, wat weer met vaart en vuur geboul het, het met die telling op 11 toegeslaan toe hy die gevaarman Murali Vijay die aflewering op sy paaltjies laat trek het met ʼn bal wat laag gehou het.

Toe was dit Ngidi se beurt. Lokesh Rahul het van Ngidi se eerste bal ʼn betreklike los hou gespeel en is op punt deur Keshav Maharaj gevang – en toe, in sy derde beurt, het Ngidi vir Kohli heeltemal geklop en beenvoor betrap.

Die vet tannie moet natuurlik nog sing, maar om te wen sal Indië op die eienaardige kolfblad die hoogste wentelling nóg wat op SuperSportpark aangeteken is, 264 deur Engeland, moet verbysteek.

Vir die volledige telkaart en ontledings, klik op die skakel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Supersport raak amper soos die SCG. As jy laaste kolf veg jy van dag 1 af vir oorlewing of jy moet net eenkeer kolf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.