Ngidi uit reeks weens Covid-19

Lungi Ngidi. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Lungi Ngidi het positief vir Covid-19 getoets en moes noodgedwonge saam met Lizaad Williams (wat ’n besering opgedoen het) aan die komende eendagreeks teen Nederland onttrek.

Die eerste aflewering in die reeks van drie wedstryde word Vrydag op SuperSportpark in Centurion afgestuur.

Met verskeie spelers – onder wie Temba Bavuma en Quinton de Kock – wat ’n blaaskans geniet, het die Protea-keurders vir Junior Dala nadergetrek om Ngidi en Williams se snelboulerskoene vol te staan.

Die 31-jarige Titans-speler het al tien mik-en-moker-wedstryde vir die Proteas gespeel waarin hy 13 paaltjies teen ’n gemiddeld van net meer as 23 geneem het.

Volgens ’n verklaring deur Krieket Suid-Afrika (KSA) gaan dit goed met Ngidi en sy simptome word gereeld deur ’n mediese span gemonitor.

Die 25-jarige Ngidi het laas in Julie teen Ierland ’n wedstryd vir die Proteas gespeel, terwyl hy glad nie speelkans in die Super 12-fase van die Suid-Afrikaners se T20-Wêreldbekerveldtog in die Verenigde Arabiese Emirate gekry het nie.

Hy het ook die witbalkrieketreeks teen Sri Lanka om “persoonlike redes” misgeloop.

Protea-groep teen Nederland: Keshav Maharaj (kaptein), Daryn Dupavillon, Zubayr Hamza, Reeza Hendricks, Sisanda Magala, Janneman Malan, David Miller, Junior Dala, Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo, Wayne Parnell, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi, Kyle Verreynne en Khaya Zondo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.