Nieu-Seeland knak Proteas

Die Proteas tydens ‘n vorige wedstryd. (Foto: Twitter.)

Daar gaan nog lang trane gehuil word oor die onbeskikbaarheid van die Groot Drie van Suid-Afrikaanse krieket, Lizelle Lee (uitgetree), Marizanne Kapp (persoonlike redes) en Dane van Niekerk (beseer).

Sonder dié drietal het die Proteas ʼn nagmerrietoer deur Engeland beleef.

Saterdagmiddag op Edgbaston in Birmingham het die treurmare voortgeduur toe Nieu-Seeland die Suid-Afrikaners met 13 lopies in die spanne se openingswedstryd by vanjaar se Statebondspele geklop het.

Nadat Nieu-Seeland, danksy die ervare Suzie Bates (91* van 64 balle, 8×4, 3×6) en Sophie Devine (48), by 162/7 in sy kolfbeurt uitgekom het, was die Proteas onder groot druk.

Toe Anneke Bosch (3) en Tazmin Brits (6) boonop hul paaltjies vroeg verloor het, was dit ʼn opdraande stryd op 15/2 ná 4 boulbeurte.

Chloe Tryon (39 van 17 balle), Sune Luus (32), Laura Wolvaardt (28) en Mignon du Preez het byna die onmoontlike reggekry, maar die oormag was te groot. Die Proteas het bly veg en by 154 lopies vir 7 paaltjies uitgekom, maar dit was nog 14 lopies kort van ʼn oorwinning.

Was Lee, Kapp of Van Niekerk dalk beskikbaar, kon dinge so maklik anders uitgedraai het, maar as is verbrande hout.

Nou is die Proteas met die rug teen die muur, want net twee spanne in elke groep (Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland en Sri Lanka is in een groep) kan tot volgende naweek se halfeindronde deurdring.

Nadat Suid-Afrika nie die mas in die onlangse T20-reeks teen Engeland kon opkom nie, sal die Proteas baie diep moet delf om die halfeindronde te kan haal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.