Nieu-Seelandse kolflys lyk broos sonder beseerde Taylor

Ross Taylor - sy ervaring sal deur die Swart Pette gemis word (Foto: stuff.co.nz)

Ross Taylor – sy ervaring sal deur die Swart Pette gemis word (Foto: stuff.co.nz)

Twee van Nieu-Seeland se sleutelspelers, die aanvangsbouler Trent Boult en die skitterende middelkolwer Ross Taylor, is weens beserings nie beskikbaar vir die tweede kriekettoets teen die Proteas wat Donderdag (middernag SA tyd) in Wellington begin nie.

Die verlies van Taylor, wat sy kuitspier in die eerste toets beseer het, beteken dat daar soveel meer druk op die Kiwi’s se kaptein Kane Williamson sal wees wanneer Nieu-Seeland poog om slegs hulle tweede toets sedert 1931/’32 op tuisbodem teen Suid-Afrika te wen.

Taylor se ervaring van 81 toetse en sy bewese gehalte met 6 030 lopies teen ʼn gemiddelde van 47,1 agter sy naam, spreek vanself.

Neil Broom, wat redelik in sy eendaagse loopbaan vertoon het, sal waarskynlik vir Taylor vervang en op 33-jarige ouderdom sy debuut in die toets maak.

Hy sal na die lang wag om toetskrieket te speel boonop kom kolf met die wete dat hy in sy laaste drie beurte in die eendagwedstryde teen die Proteas 2, 2, en 0 aangeteken het. Die Proteas se kaptein Faf du Plessis het in ʼn onderhoud juis aangedui dat hulle hom behoort te kan vasvat.

Ondanks die meer as 70mm reën wat die afgelope paar dae in Wellington geval het en die kolfblad groen laat voorkom, word daar nie verwag dat die blad veel anders as in die verlede sal speel nie.

Snel- en naatboulers sal egter na verwagting die grootste rol in die twee boulaanvalle speel, hoewel dit na verwagting nie werklik ʼn blad sal wees wat die boulers bevoordeel nie. Vir die Proteas se boulers is daar egter die uitdaging van die wind wat hul aanlope en ritme kan versteur. Wellington is nie verniet die tuiste van die rugbyspan wat hulself die Hurricanes noem nie!

Nieu-Seeland het die voordeel dat hulle vir Tim Southee, ook ʼn aanvangsbouler wat onverwags weggelaat is vir die eerste toets, in die beseerde Boult se plek kan kies. Southee is ʼn moeilike kalant wat bewenens sy naatballe ook die vermoë het om vinnige ‘draaiballe’ te boul wat van die blad af sny. Sy 190 toetspaaltjies getuig van sy ervaring en gehalte.

Dit mag ook beteken dat Nieu-Seeland net een draaibouler sal kies wat hoogswaarskynlik Jeetan Patel sal wees. Vir Quinton de Kock sal dit nie goeie nuus wees nie. Patel probeer om vir die vyfde keer opeenvolgens De Kock se paaltjie te kry.

Die naatbouler Colin de Grandhomme sal dan moontlik in die plek van die draaier Mitchell Santner ingesluit word na sy goeie vertonings in die eendagreeks. Hy is ook ʼn veel beter kolwer as Santner.

Suid-Afrika se span behoort onderveranderd te bly. Daar is sprake dat nog ʼn snel/naatbouler gekies sal word.  Wayne Parnell kan moontlik ten koste van JP Duminy ingesluit word.

Ondanks Wellington se nat en winderige weer die afgelope dae is daar die vooruitsig vir goeie weer vir die toets, met moontlike los reënbuie Saterdag.  Die kolfblad was Woensdag redelik groen maar dit kan misleidend wees op hierdie veld.

♦  Kane Williamson, Nieu-Seeland se kaptein, kort 63 lopies om die 5 000 kerf te bereik. Hy is nou na Steve Smith van Australië tweede op die wêreldranglys vir toetskolwers.

Waarskynlike spanne – 

Nieu-Seeland
1 Tom Latham, 2 Jeet Raval, 3 Kane Williamson (kapt.), 4 Neil Broom, 5 Henry Nicholls, 6 James Neesham, 7 BJ Watling, 8 Colin de Grandhomme, 9 Tim Southee, 10 Neil Wagner, 11 Jeetan Patel
Suid-Afrika
1 Stephen Cook, 2 Dean Elgar, 3 Hashim Amla, 4 Faf du Plessis (kapt.), 5 JP Duminy, 6 Temba Bavuma, 7 Quinton de Kock, 8 Vernon Philander, 9 Keshav Maharaj, 10 Morne Morkel, 11 Kagiso Rabada

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.