Nkwe bedank as Protea-hulpafrigter

Enoch Nkwe. Foto: Sajjad Hussain/AFP.

Krieket in Suid-Afrika kan deesdae glad nie met ’n bekende motorvervaardiger se advertensie van ouds vergelyk word nie; grotendeels omdat dinge glad nie reg loop nie.

Kort nadat Mark Boucher, die Protea-hoofafrigter, op die aantygings gereageer het wat teen hom by Krieket Suid-Afrika (KSA) se transformasie-sittings gemaak is, het Enoch Nkwe uit sy pos as hulpafrigter bedank.

KSA het probeer om hom deel van die nasionale opset te hou, maar sy bedanking is intussen deur die nasionale krieketbeheerliggaam in ’n verklaring bevestig.

“Terwyl ons alles moontlik gedoen het om sy dienste te behou, het Enoch besluit om eerder op persoonlike groei en professionele ontwikkeling te fokus.”

Volgens KSA bied dit vir Nkwe ’n geleentheid om op ’n latere stadium weer deel van die Suid-Afrikaanse afrigtersopset te word; gewapen met groter loopbaansekerheid.

Meningsverskille met Boucher is na bewering ’n rede vir die 38-jarige afrigter se bedanking, maar dit het niks met ras uit te waai nie.

Mark Boucer. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Cricinfo berig dat die twee afrigters se persoonlikhede nie versoenbaar is nie en dat Boucher se sterk afrigtersteenwoordigheid Nkwe uitgesluit laat voel het. Daarbenewens wou die hulpafrigter glo ’n kleiner rol tydens oefensessies speel en meer by die tegniese deel van die spel betrokke raak.

KSA sê dat Nkwe ook sy kommer oor die kultuur en funksionering van die Protea-spanomgewing uitgespreek het. Nodeloos om te sê sal hierdie bewerings ondersoek word en verdere kommentaar sal nie gelewer word totdat die proses afgehandel is nie.

Intussen word Boucher se kop veral op sosiale media geëis.

“Ek word in sekere mediaberigte en op sosiale media daarvan beskuldig dat ek ’n rassis is – ’n etiket wat byna onmoontlik is om uit te wis. Die aanval op my karakter deur hierdie mense is meedoënloos en sonder enige objektiwiteit, terwyl dit lyk asof dit deur ’n verskuilde agenda aangehits word.

“Hoewel ek naïef in my speeldae was, was niks wat ek gesê of gedoen het deur kwaadwilligheid of rassisme gemotiveer nie. Ek het myself nooit beter as enigiemand anders op grond van my velkleur geag nie,” het Boucher vroeër in ’n verklaring gesê.

Die Proteas vertrek vandag op hul toer na Sri Lanka en volgens Temba Bavuma het Boucher vroeër die hele span oor die bewerings teen hom toegespreek.

“Hy het die span in sy vertroue geneem en sy verduideliking het duidelikheid en konteks aan die situasie verleen,” het Bavuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierre

Rasse kaart………….hoekom moet ras altyd betrokke wees as twee mense van verskillende rasse nie oor die weg kom nie, mense van die selfde ras kom nie eers altyd met mekaar oor die weg nie, persoonlikhede verskil en het nie altyd met ras te doen nie.

Jack Russ1

If you can’t take the heat, get out of the kitchen

Manie

En jou bydrae was?????

Danie

Ek sal voorstel dat ons die krieket in die hande van die klaers en polotici los en dan sit ons agteroor en haal die pocorn uit. Ons voorste spelers moet dan maar vir hulle n toekoms in Indie of Europa voort bou. Dis hartseer maar dis mos wat hulle wil he.

Frank

Jong ou maatjie, dis maar wat gebeur wanneer jy in ‘n pos aangestel word sonder veel ervaring, sogenaamde “window dressing”: jou “opinie” tel nie veel punte in iemand soos Boucher se geselskap nie.
Sokker miskien….?