Nkwe in Smith se plek aangestel

Enoch Nkwe het die Mzansi Superliga saam met die Jozi Stars gewen. Foto: Krieket Suid-Afrika.

Enoch Nkwe, die voormalige Protea-hulpafrigter, is as Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe direkteur van krieket aangestel.

Die nasionale krieketbeheerliggaam het vandag die nuus bevestig.

Die 39-jarige Nkwe, wat in 42 meerdaagse krieketwedstryde en 38 eendagkragmetings vir Gauteng gespeel het, sal Graeme Smith se skoene volstaan nadat die voormalige Protea-kaptein nie weer aansoek vir die pos gedoen het nie.

Nkwe het ’n goeie krieketbrein en hy het al voorheen sukses as afrigter geproe. Hy het onder meer die 2018-weergawe van die plaaslike Mzansi-liga gewen, terwyl hy ook die vierdagreeks saam met die Gauteng-franchise beklink het.

In sy hoedanigheid as tydelike nasionale afrigter was hy egter aan die stuur van die Proteas se rampspoedige toer na Indië in 2019 voordat Mark Boucher die pos as hoofafrigter gekry het.

Nkwe is as die Proteas se hulpafrigter aangewys totdat hy verlede jaar uit dié amp bedank het; meningsverskille met Boucher was glo die rede vir dié besluit.

Cricinfo het destyds berig dat die twee afrigters se persoonlikhede nie versoenbaar is nie en dat Boucher se sterk afrigtersteenwoordigheid Nkwe uitgesluit laat voel het. Daarbenewens wou die hulpafrigter glo ’n kleiner rol tydens oefensessies speel en meer by die tegniese deel van die spel betrokke raak.

Nkwe het egter dadelik aangedui dat hy nie van plan is om teen Boucher in KSA se beplande dissiplinêre verhoor teen die oudpaaltjiewagter te getuig nie.

Alle klagtes is later teen Boucher laat vaar, terwyl die krieketbeheerliggaam ook bevestig het dat hy tot die afrigter se regskoste sal bydra.

Die Proteas speel van 19 Julie teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Janice ·

Hoe gaan jy van ‘n krieketspeler wat nie net as een van die beste, gerespekteerde krieket kapteine van Suid-Afrika bekend was nie, maar as een van die beste internasionale kapteine gereken was (wat ‘n absolute opdraende stryd in die posisie van direkteur van krieket moes voer) na ‘n hulpafrigter wat net provinsiale ondervinding het in die posisie? Seer sekerlik was daar baie meer bekwame applikasies. Baadjies vir boeties en KSA is nog verder in sy peetjie in.

John ·

Ja dis maar nog n kwessie van ‘Another good one bites the dust’ Hy was hopeloos in 2019 maar skielik nou net die man.

Frank ·

Provinsiaal is TOTAAL anders as internasionaal. Menige briljante provinsiale spelers dwarsoor die wereld het al verwelk op die internasionale verhoog. Selfde vir afrigters, en as jou afrigter nie eers internasionaal as speler meegeding het nie…….
Maar kom ons gee die man kans, miskien is hy een van daardie skaars uitsonderings.

Pieter ·

Wil jy nou meer – HAHAH. Krieket in S.A is klaar. (Die BEE gedoente werk nie meer nie en die ras-kaart ook nie meer nie). Alles in S.A is basies tot niet.- Mens kan nie eens meer sport kyk nie.

Thelsa ·

Nog ‘n Kader-aanstelling. Neem Smith nie kwalik iir hy nie aansoek gedoen het nie. Kom onskyk hoe tuimel die kaartehuis

Clifford ·

Glo Boucher gaan dieselfde pad volg na die wereld beker.

Jean ·

Want ‘n direkteur moet mos die sport self kon speel vir ‘n A span…

Grond ·

Hy moet ‘n miljoene rand besigheid bestuur met matriek en twee “Open2Study online free course”, wat ‘n grap

Dup ·

Alles in die naam van Transformasie.Die kader aanstellings gaan voort.
Totsiens krieket.

Chris dupreez ·

Ons sal maar sien. Daar is n groot verskil tussen afrigter en direkteur. Miskien verbaas hy ons. Hoop regtig so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.