Nkwe sal in Indië elke ongelowige Thomas wil laat glo

Enoch Nkwe het die Mzansi Superliga saam met die Jozi Stars gewen. Foto: Krieket Suid-Afrika.

In sy speeldae was Enoch Nkwe ’n veelsydige speler. In 42 eersterangse kragmetings het die 36-jarige nuwe (en tydelike) Protea-breier 1 768 lopies geslaan en 29 paaltjies geneem.

En in teenstelling met die snelboulerbeheptheid van sy voorganger, die Wes-Indiër Ottis Gibson, het Nkwe gesê dat sy veelsydige agtergrond hom van hulp sal wees om elke afdeling (kolfwerk, boulwerk en veldwerk) doeltreffend aan te wend.

Doeltreffendheid is juis iets wat van kardinale belang sal wees wanneer die Proteas hul Toetskampioenskap-veldtog volgende maand weg van die huis teen Indië afskop. ’n Goeie vertoning daar in Asië sal nie net baie vir hul selfvertroue in die toetsarena doen nie, maar dit sal ook die spook van ’n uiters teleurstellende Wêreldbeker-kriekettoernooi effens verjaag.

Maar om Indië in hul tuisland te wen, is soos om die All Blacks op Edenpark te probeer klop: Dit gebeur nie sommer nie.

“Ek verstaan dat dit ’n enorme uitdaging sal wees, maar ek glo dat ons ’n groot impak op die toetsreeks kan maak,” het Nkwe in sy eerste mediakonferensie as tydelike Protea-breier gesê.

“En as ons nie ’n impak maak nie, is dit nie die einde van die wêreld nie, daar is altyd ’n groter prentjie.”

Hoewel Nkwe, en waarskynlik die res van Suid-Afrika, nog ietwat in die duister is oor die presiese pad vorentoe, is hy gereed vir die komende toer.

“Ek is baie opgewonde en ek sien baie daarna uit.”

Die 36-jarige Nkwe het sukses as afrigter met die Lions in plaaslike reekse gesmaak, maar sy aanstelling – hoewel tydelik van aard – het as ’n verrassing vir baie gekom.

Kevin Pietersen het amper gepleit dat Mark Boucher die redder van Suid-Afrikaanse krieket moet wees, terwyl Herschelle Gibbs Nkwe se aanstelling bevraagteken het.

Gibbs het op Twitter gesê dat afrigters soos Mark Boucher en Ashwell Prince hulself ongelukkig kan ag om nie nou al oorweeg te word nie.

Nkwe het vroeër saam met die Johannesburgers die Mzansi Superliga, sowel as die vierdagreeks en KSA T20-toernooi, gewen.

“Ek sien dat een goeie seisoen sorg dat jy die Protea-afrigter word – dit is so eenvoudig soos dit,” het Gibbs geskryf.

Volgens ESPN Cricinfo word Nkwe deur Pep Guardiola, die sokkerreus Barcelona se suksesvolle jong breier, geïnspireer.

“Ek het die afgelope ruk Guardiola se loopbaan gevolg en ek is baie beïndruk met die wyse waarop hy soveel vertroue in sy vermoëns het, sowel as sy waardes as afrigter en persoon. Hy sal altyd probeer om nuwe hoogtes te bereik en dit is iets wat my baie aanmoedig. Wanneer ek geleenthede soos die [die Indië-reeks sien], dan word ek baie opgewonde.”

“Daar is sekere dinge wat tyd sal neem en ek weet nie hoe suksesvol ons oor ’n kort tydperk sal wees nie, maar ek glo ons kan vinnig dinge omkeer. Ek is van mening dat ons oor die spelers beskik om dit te doen. ”

Hy het bygevoeg dat die areas wat die span in die verlede teruggehou het, en gekeer het dat hulle nie tot hulle volle potensiaal speel nie, geïdentifiseer moet word en voldoende aandag aan gegee sal word.

Enoch Nkwe sal die komende Indiese reeks wil gebruik om elke ongelowige Thomas weer rede te gee om in Suid-Afrikaanse krieket te glo. Maar om Indië te wen sal baie geloof en vasberadenheid verg.

  • Proteas-toetsspan: Faf du Plessis (kaptein), Temba Bavuma (onderkaptein), Theunis de Bruyn, Quinton de Kock, Dean Elgar, Zubayr Hamza, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Senuran Muthusamy, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Vernon Philander, Dane Piedt, Kagiso Rabada, Rudi Second.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Klink al klaar soos Otis en pofwange dat dit nie saak maak as hulle die WB teen Engeland verloor nie. Nou maak dit nie saak as hy teen Indië val nie, want hy weet al klaar dit is wat gaan gebeur met die ANC span. Kyk maar hoe wemel dut van ANC in die span. Die 1ste klompie jare na 1992 het ons goed gedoen met meriete spanbe IN Indië.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.