Noem hom sommer Faf du ‘Ples-ses’

Faf du Plessis het vyf sesse teen die Lucknow Super Giants geslaan. (Foto: Twitter/IPL)

Faf du Plessis het gisteraand sy 297ste, 298ste, 299ste, 300ste en 301ste ses in T20-krieket gemoker, maar ondanks sy warrelwindbeurt het die Royal Challengers Bangalore steeds ʼn aksiebelaaide wedstryd teen die Lucknow Super Giants met een paaltjie verloor.

Du Plessis (79 lopies) het saam met Virat Kholi (61 lopies) en Glenn Maxwell (59 lopies) toegesien dat RCB 212/2 in sy toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Maar op ʼn mak M.Chinnaswamy-kolfblad, waar tellings van meer as 200 lopies al 24 keer verbygesteek is, het ʼn paar ondersteuners gebrom dat die tuisspan te min lopies op die telbord het

Dit het egter aanvanklik gelyk of daar geen rede tot kommer was nie: ʼn Vurige Wayne Parnell en Mohammad Siraj het die Lucknow-kolwers op 23/3 laat steier en die wenteiken van 213 lopies het deksels ver gelyk.

Maar Marcus Stoinis en Nicholas Pooran het ander planne gehad en ʼn rits sesse het beteken dat die momentum-pendulum in Lucknow se guns geswaai het.

Veral Pooran was op sy aanvallende beste en hy het 65 lopies teen ʼn treftempo van meer as 300 gemoker.

Tog het die wedstryd op ʼn naelbyteinde afgestuur en die Super Giants het die wenlopie van die laaste bal van die wedstryd aangeteken.

Du Plessis is tans derde op die lys van toplopiemakers in die toernooi.

In sy drie Indiese Premierliga-wedstryde het hy 175 lopies teen ʼn gemiddeld van 87,50 geslaan, terwyl hy sy lopies teen ʼn flinke pas van 173,26 aanteken.

  • Opsomming van telkaart:

Royal Challengers Bangalore 212/2 in 20 boulbeurte: Faf du Plessis 79*, Virat Kohli 61 en Amit Mishra 1/18.

Lucknow Super Giants 213/9 in 20 boulbeurte: Marcus Stoinis 65, Nicholas Pooran 62 en Mohammad Siraj 3/22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Colombo ·

Hy is nie deel van Suid Afrika se planne vir die wereldbeker nie.Ons gaan sleg tweede kom.

Treurwilger ·

“Faf du Ples-ses”.
Perfek!
Faf is ‘n kolf- koning!

piet ·

Speel die wonderkind, Brevis, in die toernooi en indien wel hoe vaar hy?

Hennie Biebouw ·

Hy is die Mumbai Indians se groep, maar het nog nie dié jaar speelkans gekry nie. Mark Boucher rig die Mumbai Indians af.

George ·

Maak nie eens span nie. Sy avg van 22 is toe nou nie goed genoeg nie, alhoewel Saffas vir een of ander rede dink dat hy n wonderwerk is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.